Die AfriForum-tak in Randfontein het op 16 Junie 2020 ses mangate met betonblokke toegemaak nadat verskeie mangatdeksels gesteel is. Die tak het nou reeds nege gate toegemaak en talle ander sal in die komende dae bedek word. Die oop gate hou verskeie veiligheidsrisiko’s in, veral vir gemeenskapslede wat daagliks langs die oop gate loop en kinders wat daar naby speel.
Rommel word ook in die oop gate gestort wat veroorsaak dat die dorp se pype byna weekliks verstop. Die betonblokke is oor mangate in Railway-, Du Toit- en Tierstraat geplaas, asook op die hoek van Greenhillslaan en Larkstraat.
“Die deksels is so swaar dat dit nie sommer net geskuif kan word nie. Waar die dreine altyd verstop het omdat daar nie deksels op was nie, was daar nou nog nie weer ’n pyp wat verstop het waar die mangate met die betonblokke bedek is nie,” sê Matiam van Vuuren, voorsitter van AfriForum se Randfontein-tak.
“Die plaaslike owerhede het nie ’n saak met die gemeenskap se veiligheid of frustrasies nie. Aksies soos hierdie is klein treë na selfbestuur. AfriForum moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak om ’n veilige toekoms vir almal te skep,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand.
Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS “Randfontein” na 45342 (R1).