AfriForum se Kroonstad-tak het gedurende Oktober ses inheemse bome (vaderlandswilg- en witstinkhoutbome) op verskillende plekke in die dorp geplant as deel van die organisasie se Ons Dorp-veldtog.
Volgens Jp Nel, assistentkoördineerder van die Hoogland, het AfriForum vanjaar reeds meer as 2 500 bome landwyd geplant. Die bome is onderskeidelik by die Kroonstad Dagsorgsentrum, Huis Edelkroon en by die Sasol-vulstasie geplant.
“Deur inheemse bome te plant, bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ’n mooier plek om in te bly nie, maar wys ons ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe,” sê Nel.
AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2019 is die maroela (Sclerocarya birrea), terwyl die skaars boom die appelblaar (Philenoptera violacea) is. AfriForum moedig sy lede egter aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.
“Elke boom wat geplant word, maak ’n blywende verskil in die gemeenskap. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer, en die AfriForum-tak in Kroonstad onderneem om dié sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” sê Nel verder.
Die tak wil graag die gemeenskap uitnooi om meer betrokke te raak by hierdie tipe aksies en om ook by die tak aan te sluit. SMS “Kroonstad” na 31481(R1) om by die tak aan te sluit.