Wêreldmoedertaaldag word sedert 2000 jaarliks op 21 Februarie gevier om die bewustheid van taalkundige en kulturele verskeidenheid en veeltaligheid te bevorder.
Dit is op 17 November 1999 deur Unesco aangekondig. Die viering van internasionale moedertaaldag is ook amptelik erken deur die Verenigde Nasies se algemene vergadering in sy besluit om 2008 as die Internasionale Jaar van Tale te vestig.
Wêreldmoedertaaldag het ontstaan as internasionale erkenning van Taalbewegingsdag, wat sedert 1952 in Bangladesj (voorheen bekend as Oos-Pakistan) herdenk is toe ’n aantal studente, insluitend studente van die Universiteit van Dhaka doodgemaak is deur Pakistanse polisie in Dhaka gedurende die proteste van die Bengaalse Taalbeweging.
AfriForum vier ook vandag Wêreldmoedertaaldag. Vanjaar gaan AfriForum ook elke maand ’n bydrae plaas van iemand wat verduidelik watter voordeel dit vir hom of haar in ’n spesifieke werksveld inhou dat hy of sy Afrikaans kan praat.
Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê mense dink dikwels moedertaal is bloot ’n gemaklike kommunikasiemedium en vergeet dat dit deel van elke mens se identiteit is. “By die werk gee die gebruik van ons moedertaal, Afrikaans, vir ons selfvertroue, toegang tot Afrikaanse bronne en kontakte (maar ook Nederlandse en Vlaamse bronne), en unieke werks- en bevorderingsgeleenthede.
“Ons is gewoonlik ook vaardig in meer tale, beginnend by Engels, teenoor Engelse Suid-Afrikaners wat selde enige ander taal kan praat. Afrikaanssprekende verbruikers moet Afrikaanssprekende diensverskaffers ondersteun, en meer spesifiek, AfriForum-lede moet AfriForum-lede ondersteun.
“So maak ons ons gemeenskap sterk met ons eie kapitaal in ons eie moedertaal. En wat is dan lekkerder as om jou versoek vir diens in jou eie taal aan iemand te verduidelik wat jou presies verstaan? Moedertaaldag skep die perfekte geleentheid om mense weer aan al hierdie voordele te herinner en ons pragtige taal te vier,” sê Bailey.
Carien Bloem, koördineerder vir onderwys by AfriForum, beklemtoon ook die belangrikheid van moedertaalonderrig. “Die matriekuitslae van 2018 het weer duidelik gewys hoe belangrik moedertaalonderrig is. Skole waar moedertaalonderrig plaasvind, veral Afrikaanse skole, het uitstekende prestasies in al die verskillende vakgebiede opgelewer.”
Volgens Bloem is moedertaalonderrig die kern van gesonde leer en bevordering van meertaligheid.
Akademia, die privaat hoëronderwysinstelling, vier ook vandag saam met talle taalgemeenskappe dwarsoor die wêreld die rykdom van tale. Een van die uitstaande kenmerke van die mensdom is die groot hoeveelheid tale wat ons praat, iets wat kleur, diepte en sin aan ons gedeelde menswees gee.
Luidens studies is daar na raming vandag 6 000 tale wat wêreldwyd gepraat word, maar ten minste 43% daarvan kan binne enkele geslagte uitsterf. In die globale era is dit veral die kleiner tale wat deur groot tale soos Sjinees, Engels, Arabies en Spaans verdring word.
“Akademia hoop dat internasionale moedertaaldag daartoe sal bydra dat gemeenskappe dwarsoor die wêreld daadwerklike stappe sal doen om die lewensvatbaarheid van hul onderskeie tale te verseker. Trouens, ons droom daarvan dat die verskillende tale nie net sal oorleef nie, maar dat hulle – soos die ou Griekse denkers reeds gesê het – ook goed sal lewe,” sê prof. Danie Goosen, akademiese hoof by Akademia.
Goosen beskryf sy moedertaal, Afrikaans, as ʼn “gemeenskaplike tuiste” vir die wat die taal praat.
Akademia, nou in haar agtste bestaansjaar, bou voort aan Afrikaans as akademiese en wetenskapstaal. “Een van ons groot uitdagings vandag is om Afrikaans so te versorg dat haar skoonheid nie verlep nie, en dat sy haar aantrekkingskrag as taaltuiste behou,” verduidelik Goosen verder.
Ondanks ʼn groot hoeveelheid kundiges wat reeds op die opvoedkundige voordele van moedertaalonderrig gewys het, is daar ʼn tendens by openbare universiteite om Engels as die enigste onderrigtaal aan te neem. Al is die wêreldtaal Engels, plaas Akademia steeds klem op Afrikaans as onderrigtaal. Dié instelling ontken glad nie die belangrikheid van Engels in die internasionale universiteitswese nie. “Ons studente móét vaardig in Engels kan wees. Indien die grondslag in jou eie moedertaal egter nie goed ontwikkel word nie, is dit baie moeiliker om vaardigheid in ander tale te ontwikkel,” verduidelik Goosen.
Akademia is onbeskaamd ʼn Afrikaanse hoëronderwysinstelling, maar sy ontken daarmee nie die noodsaak van veeltaligheid nie. Inteendeel, met haar klem op Afrikaans maak sy dié vaardigheid juis moontlik. Daarom sal Akademia nou en in die toekoms voortbestaan en voortbou met haar fokus op moedertaalonderrig.