Vryheid van spraak is ’n hoeksteen van ’n oop en demokratiese samelewing en moet ten alle koste beskerm word.
Dit is een van die gevolgtrekkings waartoe deelnemers vandag by ’n seminaar van AfriForum gekom het waar die burgerregte-organisasie ook aangekondig het dat ’n skriftelike betoog by die parlement ingedien is teen die Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade en -spraak (die Haatspraakwetsontwerp).
Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, adv. Mark Oppenheimer, kenner oor vryheid van spraak, en Marius Roodt van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) het aan die gesprek deelgeneem.
Roets sê AfriForum is verbind tot die beginsel van vryheid van spraak en dat die organisasie ook ten gunste van wetgewing rondom haatspraak in die Suid-Afrikaanse konteks is. “Die uitdaging is egter om ’n gesonde balans tussen die aanmoediging van vryheid van spraak en die bevegting van haatspraak te vind. Ons glo dat die voorgestelde wetsontwerp klaaglik hierin sal misluk, omdat dit voorstel dat blote beledigende spraak as haatspraak geag moet word. Hierdie is ’n skending van die beginsel van vryheid van spraak.”
Oppenheimer meen die waarde van vryheid van spraak is ontsettend belangrik en daar behoort ’n konstante stryd te wees om die prys van dié vryheid te beskerm. Hy het aan die hand van voorbeelde verduidelik watter uitsprake wel as haatspraak kwalifiseer en watter byvoorbeeld bloot kwetsend geag kan word. Hy het ook gewys op uitsprake wat duidelik op aanhitsing tot geweld neerkom.
Roodt meen daar behoort geen perke te wees op wat mense sê nie mits dit nie tot nadeel van ander is nie. “In ’n regverdige samelewing moet mense dinge kan sê al hou ander nie daarvan nie. Swak idees moet ook in die ope gebring word sodat dit blootgelê kan word vir presies wat dit is. Maar in dieselfde asem is dit belangrik om te besef dat al het mense die vryheid om sekere dinge te sê, dit ook nie beteken dat hulle dit moet doen nie.” In dié verband het hy na die uitsprake van die BLF verwys.
Die vertoon van die ou landsvlag is ook bespreek en Oppenheimer meen hoewel dit nie ’n goeie idee of selfs aanvaarbaar is om dit te doen nie, behoort dit nie verbied of as haatspraak geklassifiseer te word nie. “Mense moet wel bewus wees en besef wat se skade die vertoon van sekere simbole kan aanrig.”
Die sprekers was dit eens dat ’n haatspraakwet soos alle wetgewing grondwetlik moet wees.
AfriForum se besware teen die wetsontwerp, soos opgestel deur Oppenheimer, sluit in dat die taal in die wetsontwerp aansienlik van dié in die Grondwet verskil. Die grondwetlike standaard vir haatspraak is dié van vryheid van spraak wat nie lei tot die voorstaan van haat wat op ras, etnisiteit, geslag of geloof gebaseer is nie, en wat nie aanhitsing behels om leed aan te doen nie.
Volgens die wetsontwerp is die blote verspreiding van haat of leed egter genoeg vir uitsprake om as haatspraak geag te word. ’n Ander probleem is dat “leed” in die wetsontwerp gedefinieer word met emosionele leed en sosiale leed daarby insluit. Verder is die gronde waarop haatspraak gepleeg kan word volgens die wetsontwerp te verreikend en sluit dit byvoorbeeld ouderdom in. Die gevolg is wanneer iemand gebaseer op ouderdom gespot word (soos om iemand ’n “ouballie” te noem) op ’n strafregtelike oortreding kan neerkom en met drie jaar tronkstraf gepaard kan gaan.
AfriForum het ook vandag ’n veldtog vir openbare deelname van stapel gestuur om ʼn standpunt teen die wetsontwerp in te neem en om die organisasie toe te laat om ’n verbale betoog aan die parlement te gee rondom vryheid van spraak, haatspraak en rassisme. Vir hierdie doel word die publiek aangemoedig om die petisie by www.haatspraak.co.za te teken.