Header Artwork

AfriForum verwelkom die Konstitusionele Hof se beslissing in die saak tussen die Gautengse onderwysdepartement en die Hoërskool Overvaal se beheerliggaam, naamlik dat die onderwysdepartement se aansoek om appèl met koste verwerp word.

Dié uitspraak volg nadat die Noord-Gautengse hoë hof in Januarie vanjaar beslis het dat die skool ’n enkelmedium Afrikaanse skool mag bly, nadat die onderwysdepartement dit probeer dwing het om parallelmedium onderrig aan te bied, deur leerlinge te aanvaar wat in Engels onderrig wou word.

Dié dwang is toegepas ondanks die feit dat die skool vol was en reeds Afrikaanssprekende leerlinge moes wegwys. Die Konstitusionele Hof-uitspraak berus daarop dat die departement nie voldoende oorweging aan die beskikbare kapasiteit van twee naburige enkelmedium Engelse skole, Phoenix High School en General Smuts High School, gegee het nie.

Volgens Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys, bevestig die uitspraak die reg van skole se beheerliggame om oor kwessies soos die skool se taalbeleid te beslis, asook die bestaansreg van enkelmedium Afrikaanse skole. “AfriForum hoop dat hierdie beslissing ’n einde aan Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir Onderwys, se teikening van Afrikaanse skole sal bring.”

Bloem voeg by dat die uitspraak beklemtoon hoe belangrik dit is dat ouers vir wie Afrikaanse onderrig belangrik is, sorg dat Afrikaanse skole vol is en dat hulle by beheerliggame se werksaamhede betrokke raak om die toekoms van Afrikaanse onderwys te verseker.

“Lesufi het van die saak ’n rasse-geskil probeer maak, terwyl die skool veelrassig is. Die hof het ’n belangrike uitspraak ten gunste van Afrikaans, maar ook van taalregte oor die algemeen, gelewer. Ons hoop dit sal die voortdurende aanslag teen Afrikaanse skole vir eens en vir altyd beëindig,” sê Bloem.

AfriForum het vroeër ook betrokke geraak om die plofbare situasie by die skool te ontlont nadat ’n groep EFF-lede opgeruk het om skoolbedrywighede te ontwrig.

Die EFF-lede het op die skool toegesak nadat die Noord-Gautengse hoë hof ’n opdrag van die Gautengse onderwysdepartement ter syde gestel het dat die skool 55 Engelssprekende leerlinge moet inneem.

Lesufi was woedend oor die uitspraak en het daarteen appelleer.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het ook die Konstitusionele Hof se uitspraak verwelkom.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN