“Soms voel dit dat om ’n plaasmoord te oorleef is erger as om vermoor te word want jy moet elke dag daarmee saamleef.”
So het Mariandra Heunis, ’n slagoffer van ’n wreedaardige plaasaanval, vandag tydens die mediabekendstelling van Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, se boek Kill the Boer gesê.
Heunis, ’n ma van vier, se man is op 1 Oktober 2016 voor hulle op hul kleinhoewe in Kameeldrift, noordoos van Pretoria doodgeskiet. Kort na haar man se begrafnis het sy geboorte aan hul eerste seun, André, gegee.
Kill the Boer is ’n boek oor die wreedaardige werklikheid van plaasaanvalle in Suid-Afrika en hoe die Suid-Afrikaanse regering tot die krisis aandadig is. In die boek word daar aangevoer dat die Suid-Afrikaanse regering vir verskeie redes aandadig geag moet word, insluitend sy deprioritisering van die krisis ondanks die verergering daarvan; negatiewe stereotipering van wit boere in besonder; romantisering van geweld wat op boere toegedien word; voortsetting van haat vanaf politieke platforms; en die veragting en bespotting van die slagoffers van hierdie aanvalle.
Die boek se naam is afkomstig van die van die struggle-lied ‘Kill the boer, kill the farmer’.
Roets het tydens die bekendstelling verduidelik dat AfriForum nie aanvoer dat alle plaasaanvalle en -moorde polities gemotiveerd is nie, maar dat die organisasie wel bekommerd is dat die politieke element tans onderspeel word.
“Ons ontleding van vyf voorvalle van haatspraak deur vername politieke leiers teen boere het gedui dat plaasmoorde in die maande wat op hierdie voorvalle gevolg het met ’n gemiddeld van 74,8% toegeneem het.”
Die boek ontbloot ook gevalle van die direkte betrokkenheid van lede van die regerende ANC, die Suid-Afrikaanse regering en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in besonder, in die beplanning en uitvoering van hierdie aanvalle.
“’n Verskeidenheid redes word uitgewys waarom plaasaanvalle uniek is en verdien om as ’n prioriteitsmisdaad hanteer te word. Hierdie sluit in die unieke frekwensie waarteen hierdie aanvalle plaasvind, die afgryslike vlakke van marteling wat gereeld met hierdie misdade gepaardgaan, die rol wat boere in die gemeenskap speel en die unieke omstandighede waarin boere hulself bevind,” meen Roets.
Hy het ook vertel van sy eie ervaring toe ’n gevonnisde plaasmoordenaar vir hom vertel het dat hy ’n lid van die ANC se militêre vleuel, uMkhonto we Sizwe, is en dat die ANC aan hom opdrag gegee het om ’n boer te vermoor. Roets sê dat hierdie bewerings in ’n ernstige lig beskou moet word en dat dit deeglik ondersoek moet word. Die bandopname waarin bewerings oor Malema gemaak word, is reeds in Maart 2017 op die aktualiteitsprogram Carte Blanche uitgesaai. Die EFF het destyds gesê dat Malema nie tyd het om daarop kommentaar te lewer nie. Die kwessie is ook nie verder ondersoek nie.
Dr. Johan Burger, senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies, en voormalige polisieman, het tydens die bekendstelling sy teleurstelling gedeel oor die afskaffing van die kommandostelsel in 2003. Hy is van mening dat sektor-polisiëring, wat die kommando-stelsel vervang het, nie geskik is om landelike gebiede te beveilig nie. “Plaasmoorde is ’n baie ernstige probleem en ons het deurlopende ondersteuning nodig om te verseker dat daar beter voorsorgmaatreëls en praktyke vir mense in landelike gebiede is,” meen Burger.
Dr. Theo de Jager, president van die Wêreldlandbou-organisasie en spreker by die bekendstelling, het die boek as diepsnydend en omvattend beskryf. De Jager, wat al self verskeie plaasmoordtonele besoek het, sê hy wens dat hy die ervaring van só ’n besoek kan bottel en vir dié wat die boek se relevansie bevraagteken, gee.
“Lees die boek voor jy kommentaar daarop lewer. Dit is tyd dat die regering spesiale aandag aan die saak gee. Politici moet ophou om mense aan te moedig om Kill the Boer te sing en dan hulle rûe te draai wanneer dit wel gebeur.”