Header Artwork


Die burgerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 25 April 2019 by die Laerskool Roodekrans in Roodepoort besoek afgelê. Dié veldtog dien ter bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in.

Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan.

“Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die kennis om afknouery te ontmoedig, hetsy hul ’n slagoffer, ’n omstander of die boelie self is. Laerskool Roodekrans se teenboeliedag was voorwaar ’n reusesukses en dit is altyd lekker om te sien dat ’n skool soveel moeite met hul leerders doen. Dit was net so ’n groot voorreg dat Laetitia Dee as gasspreker by ons kon aansluit,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.
“Roodies is ’n waardegedrewe skool wat daarna streef om afknouery heeltemal uit te wis en ons fokus op vyf spesifieke waardes: verantwoordelikheid, omgee vir ander, eerlikheid, integriteit en respek. Dit is ook vir ons belangrik dat ons leerders die verskil tussen afknouery en gesonde konflikhantering moet ken en verstaan. Ons beplan om elke kwartaal sprekers te kry om, in samewerking met AfriForum, bewustheid oor afknouery onder ons leerders en onderwysers te skep,” sê Deon Rousseau, hoof van die Laerskool Roodekrans.
“Dit is ’n voorreg om deel van AfriForum se teenboelieveldtog te wees. Ons kinders is die volgende generasie en ook die toekoms van die land en daarom huisves ’n skoolsaal eindelose potensiaal. As ons kinders kan leer om mekaar te respekteer, bou ons stukkie-vir-stukkie aan ’n beter Suid-Afrika,” sê Laetitia Dee, motiveringspreker en HUB van Laetus Life.

Stuur ’n e-pos aan leandie.brasler@antiek.afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN