Header Artwork

Die aanbieding van Afrikatale op skoolvlak is nie nuwe nuus nie. Gauteng moet egter net bykom en soos ander provinsiale onderwysdepartemente dié planne begin uitrol.

Só sê Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), nadat Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys vandeesweek op ʼn sitting van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) aangekondig het dat alle gr. 1-leerlinge in Gauteng van 2017 af verplig sal wees om ʼn Afrikataal te neem.

Volgens Lesufi is die doel hiervan om samehorigheid onder leerlinge te bevorder.

“Die implementering van inheemse tale op laerskoolvlak is iets wat die departement reeds in 2014 landwyd wou begin en dit is nie ʼn nuwe konsep nie,” meen Colditz.

Hy verduidelik dat die rasionalisering van onderwyspersoneel, asook die wegval van nie-eksamenverpligte vakke daartoe gelei het dat die aanbieding van inheemse tale op skoolvlak drasties afgeneem het die 1990’s. Daarom het Fedsas twee jaar terug voorgestel dat die departement hul plan eers op kleinskaal uitrol as ʼn proeflopie om te sien waar daar moontlike uitdagings kan ontstaan.

“Die Oos-Kaap het byvoorbeeld ʼn verpligte inheemse tweede addisionele taal by sowat 330 skole ingestel, terwyl Gauteng dit slegs by 10 skole gedoen het omdat dié departement van mening was dat dit nie ekonomies haalbaar sou wees om dit by meer skole te doen nie.”

Colditz meen dit het voorkom asof Gauteng nie by dié inisiatief wou inskakdel nie.

Aanvanklik wou die departement inheemse tale op ʼn hoër vlak (eerste addisionele taal) aanbied, maar ʼn gebrek aan hulpbronne, asook die gebrek aan ontwikkeling van dié tale op ʼn tersiêre vlak het dit egter belemmer.

“Die fokus is nou eerder om kinders aan inheemse tale bloot te stel en hul basiese kommunikasievaardighede te leer, met die doel om spanning en konflik te verminder en meertaligheid onder die jeug te bevorder.”

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is die burgerregte-organisasie nog altyd ten gunste van meertaligheid, maar ook bewus van die uitdagings wat ontstaan wanneer ʼn taal nie op ʼn tersiêre óf werksvlak ontwikkel is nie.

“Indien die departement hul planne vir Afrikatale op skole uitrol, sal hulle ook hulself moet verbind tot die verdere ontwikkeling van dié tale in die akademiese en werkomgewing.”

Colditz het die bekende skrywer C.J. Langenhoven aangehaal wie se woorde ten gunste van meertaligheid na dekades nog net so geldig is:

“Soveel tale as ek kan, soveel male is ek man.”

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN