Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch
Verskeie ekonomiese en politieke kenners meen pres. Jacob Zuma se voorstel dat Suid-Afrika slegs een hoofstad moet hê en dat die parlement na Pretoria moet skuif, moet eers deeglik ondersoek word.
Zuma het tydens verlede week se Staatsrede vir die derde keer voorgestel dat die parlement moet skuif. Volgens hom sal dit kostebesparing en doeltreffendheid van die staat bevorder.
Dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, verwelkom die moontlike verskuiwing indien deeglike ondersoek ingestel word. Hy het aan Forum Nuus gesê as die berekenings oor die langtermyn kan klop, is dieverskuiwing haalbaar.
“ ’n Omvattende finansiële plan en verslag sal voorgelê moet word om die verskillende finansiële en ekonomiese impakte van die verskuiwing uiteen te sit voordat enige besluite geneem kan word.”
Hy meen dat die verhuising van lede asook die nuwe infrastruktuur wat opgering sal moet word, baie duur gaan wees. Maar dit kan geld in die langtermyn bespaar.
Hy meen voorts die skuif kan “logies” wees aangesien 60% van die parlementslede in die noorde woon. “Hoewel die verskuiwing ’n emosionele besluit is, is dit belangrik om te onthou dat dit ook doeltreffendheid van amptenare kan bevorder wat tyd en geld in terme van vervoer sal spaar.”
Hoewel Zuma dalk politieke voordele uit die verskuiwing kan kry, moet die klem steeds op moontlike finansiële voordele vir die land wees. “Ek twyfel nie dat Zuma dit as ’n moontlike nalatenskap sien nie, maar die langtermynvoordele moet swaarder as sy politieke bedoelinge weeg.”
Prof. Jannie Rossouw, hoof van die skool van ekonomiese en besigheidswetenskappe by Wits, stem saam dat die verskuiwing ekonomies haalbaar is, solank dit ’n logiese verskuiwing is.
Hy meen dat hoewel daar politieke argumente oor die verskuiwing is, is dit belangriker om ’n kostevoordeel- ontleding te doen om te bepaal hoeveel geld jaarliks gespaar gaan word en hoe doeltreffend die parlement in Pretoria sal wees. Hy meen Kaapstad se lughawe, hotelle en eiendomme gaan ekonomies geweldig onder die besluit lei en daar moet ook in die korttermyn vir die verliese oplossings gesoek word.
Die DA en IVP meen kostebesparings kan op ander maniere as die verskuiwing plaasvind.
Patricia de Lille, Wes-Kaapse DA-leier, het vroeër gesê die te groot kabinet moet eers aandag kry voordat die verskuiwing na Pretoria oorweeg word.
Mnr. Roland Henwood, politieke ontleder en doesent by die Universiteit van Pretoria, sê dat daar verskillende politieke interpretasies is vir Zuma se voorstel wat ook deur die ANC gesteun word.
Eerstens is daar dalk ’n groep binne die ANC wat ongemaklik is met die geweldige druk wat op regering geplaas word oor die onnodige luukshede wat twee hoofstede bied. Tweedens is die ANC moontlik ongemaklik oor die DA se mag en steun in Kaapstad en wil die party sy steun dalk eerder in Pretoria uitbrei. Laastens kan dit beskou word as ’n “politieke kompromie” deur die regering om probleme uit die verlede te konsolideer.
Hy is van die mening dat die DA bekommerd is oor ekonomiese sowel as politieke aspekte van die verskuiwing. “Dit gaan oor meer as ’n magsgevoel, maar ook oor die ekonomiese voordele wat die parlement vir Kaapstad ingehou het. Hoewel dit ’n emosionele besluit is in die huidige politieke landskap, moet klem op die werklike noodsaaklikheid daarvan wees.”
Volgens Henderson wil die ANC die indruk skep dat hy ’n verantwoordelike regering is. “Ons het een van die wêreld se grootste kabinette, maar hoe doeltreffend is dit werklik?” Hy sê ook dat ander korttermyn kostebesparings kan plaasvind sonder die afbreek of verskuiwing van die parlement.
Die ekonoom Dawie Roodt sê die staat en veral die minister van finasies moet doen wat nodig is om kostes te probeer bespaar. Daar is egter ander besparingsopsies. “Die luuksheid van verblyf- en reiskoste wat parlementslede het, kan ook drasties besnoei word.”
Roodt meen almal bespiegel nou oor hoeveel die verskuiwing dalk kan kos. “Die beste is egter dat ’n behoorlike en omvattende studie gedoen moet word.”
Luidens verskillende mediaberigte kan die verskuiwing en moontlike oprigting van nuwe infrastruktuur vir die parlement sowat R7 miljard beloop.