Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag tydens ’n konferensie in Centurion sy kommer uitgespreek oor die feit dat die Konstitusionele Hof in sy uitsprake toenemend aan die ideologiese vertrekpunte van die regerende party vergestalting gee deur politieke inhoud aan sy uitsprake te gee.
’n Verslag getiteld Transformation and the Constitutional Court deur John Kane-Berman, voormalige uitvoerende hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), is by die konferensie voorgelê. Ander sprekers wat by die konferensie opgetree het is prof. Koos Malan van die departement publiekreg aan die Universiteit van Pretoria (UP), Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, dr. Theuns Eloff, uitvoerende hoof van die F.W. de Klerk-stigting, asook adv. Gretha Engelbrecht.
In sy verslag het Berman aangedui dat die Konstitusionele Hof hom toenemend tot drogredenasies wend om deurslag te gee aan die ideologiese vertrekpunte van die regerende elite in Suid-Afrika. Die feit dat die Konstitusionele Hof transformasie as ’n grondwetlike opdrag (constitutional imperative) beskryf ten spyte van die feit dat die term nie eers in die Grondwet verskyn nie, is een voorbeeld hiervan.
Uitsprake wat tydens die konferensie ontleed is sluit die volgende sake in:
- SAPD versus Solidariteit namens Renate Barnard (regstellende aksie)
- AgriSA versus minister van minerale en energie (eiendomsreg)
- Fedsas versus Panyaza Lesufi (onderwys)
- Solidariteit versus departement van korrektiewe dienste (regstellende aksie)
- Stad Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit versus AfriForum (kultuurregte)
- Universiteit van die Vrystaat versus AfriForum (taalregte)
Malan het beklemtoon dat die teks van die Suid-Afrikaanse Grondwet as ’t ware reeds verander het, nie weens letterlike tekswysigings nie, maar deur wysigings in die manier hoe die teks deur die howe vertolk word. Buys het sy kommer uitgespreek oor die feit dat die Grondwet – wat deur baie as ’n sterk pro-vryheidsgrondwet beskou word – toenemend deur die Konstitusionele Hof vertolk word as een waarvolgens uitvoering gegee moet word aan gelykheid van uitkomste, wat in teenstelling met vryheid staan. Eloff het gesê dat die ANC daarin geslaag het om sy eie ideologiese inhoud (spesifiek met betrekking tot ras) aan die term transformasie te gee en dat die ANC se definisie van die term die toonaangewende definisie geword het. Engelbrecht het onder meer genoem dat dit lyk of die Konstitusionele Hof toenemend waarde heg aan die identiteit van die partye wat voor die hof verskyn en dat dit blyk dat dít vir die hof ’n bepalende faktor word oor die wyse waarop ’n betrokke saak beslis moet word.
Lees John Kane-Berman se volledige verslag hier: http://bit.ly/2NtzPP1