Die burgerregte-waghond AfriForum het bedenkinge oor die nuwe nasionale dissiplinêre eenheid wat op die been gaan word om polisielede te ondersoek wat by misdrywe en wangedrag betrokke is.
Genl. Riah Phiyega, nasionale polisiehoof, het die eenheid goedgekeur in die lig van gereelde kritiek oor tugstappe teen polisielede.
Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, het vrae oor waarom ’n spesiale eenheid nodig is en die tugverhore nie in die polisiediens gedoen kan word soos wat in enige ander onderneming of organisasie gebeur nie.
“Om ’n spesiale eenheid te stig, dui daarop dat daar ernstige probleme met die hantering van dissiplinêre prosesse in die polisie is.”
Volgens hom is die ander vraag waar die ekstra geld vir ’n aparte eenheid vandaan moet kom aangesien die polisie reeds nie geld het nie. “AfriForum is ook besorg oor hoe ‘objektief’ die eenheid sal wees en of polisielede regtig vervolg sal word. Hoe kan ons vertroue hê dat dit deursigtig sal wees as die topbestuur van die polisie hulle al skuldig gemaak het om mense oor ondersoeke te waarsku?”
Cameron het verwys na Phiyega wat in Augustus verlede jaar deur die polisiewaghond, Opod, verkla is omdat sy lt.genl. Arno Lamoer, geskorste Wes-Kaapse provinsiale hoof, glo oor ’n ondersoek teen hom gewaarsku het.
Dr. Johan Burger, senior navorser van die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS), is meer positief oor die voorgestelde eenheid.
Hy meen met die nodige opleiding en beskikbaarstelling van bestaande kundigheid in die polisie sal die tugverhore gedoen kan word.
Burger het daarop gewys dat dié eenheid niks te doen het met Opod, die onafhanklike instelling in die polisie wat ingevolge die Opod-Wet van 2012 gereël word en hoofsaaklik op ernstige misdrywe fokus nie.
Volgens Burger het die kriminele klagtes wat tussen 2002 en 2012 deur Opod teen polisie- en metrolede ondersoek is, met 300% toegeneem. (Sien wat die aard van klagtes was wat Opod in 2013/2014 ondersoek het.)
Die dissiplinêre eenheid sal fokus op tugverhore wat verband hou met wangedrag van polisielede soos dronk aan diens, slaap aan diens, versuim om pligte uit te voer en laatkommery.
Volgens Burger is dié tugverhore al die jare deur offisiere gehanteer wat as voorsittende beamptes opgetree het en behoorlik vertroud was met regsvoorskrifte en regulasies. “Dit is belangrik dat sulke voorsittende beamptes kundig moet wees en uiteindelik genoeg gronde kan hê om byvoorbeeld skuldigbevindings te maak.”
Burger glo daar is polisielede wat kundig is ten opsigte van regposisies en tugverhore sal kan doen. Hy meen hulle kan op ’n rotasie-basis in provinsies aangewend word en waar daar nie kapasiteit is nie, moet hulle opleiding kry.
Burger meen een van die voordele van so ’n eenheid is dat dit die las van bevelvoerders en stasiehoofde sal verlig sodat hulle aandag kan gee aan ander kwessies soos dienslewering.
Burger het gesê dit is algemene kennis dat die gehalte van die polisie die afgelope dekade agteruit gegaan het en dit is deur verskeie polisieministers erken. Sedert 2002 het die polisiediens met sowat 70 000 lede vergroot. In die tyd het die werwing van lede waarskynlik meer op getalle (kwantiteit) as die gehalte van mense gefokus wat beteken dat daar steeds baie lede in die diens is wat nie daar hoort nie.
Volgens Burger sal dit tyd neem om die swak polisielede uit te kry.
Phiyega, wie se kop die afgelope week gereeld geëis is, het vroeër die week gesê altesame 1 422 polisielede is die afgelope drie boekjare weens kriminele en departementele redes afgedank.
Dr. Frans Cronjé, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV), en Burger het vandeesweek gesê Phiyega het op verskeie vlakke misluk en is onsuksesvol as polisiehoof.