Die burgerregte-organisasie AfriForum stuur eerskomende week ’n afvaardiging na die VSA om die eerste been van dié organisasie se internasionale veldtog teen onteiening sonder vergoeding van stapel te stuur.
Die organisasie beplan om met regeringsverteenwoordigers, navorsingsinstellings, die media en potensiële beleggers in die buiteland te vergader. AfriForum beoog om die internasionale samelewing te mobiliseer om druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om nie met sy onteieningsbeleid voort te gaan nie.
Die memorandum wat AfriForum vir hierdie doeleindes sal gebruik, is vandag aan die media bekend gestel. Luidens dié memorandum het die regering se poging om grond sonder vergoeding te onteien ’n duidelike rassistiese motief.
“Daar is verder drie kernprobleme met die regering se standpunt oor grondhervorming,” sê Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum.
Hierdie probleme is:
- Die beleid is op ’n verdraaiing van Suid-Afrika se verlede geskoei.
- Die bewering dat daar ’n groot aanvraag na grond is, is vals – veral met betrekking tot landbougrond.
- In soverre die regering reeds met betrekking tot eienaarskap van grond ingemeng het, was die gevolge katastrofies.
Die verdraaiing van die verlede hou veral verband met die aanname dat wit grondeienaars grond noodwendig deur onderdrukking bekom het, terwyl die meeste grond wat in wit besit is op ’n wettige wyse gekoop is. Daar was ook gevalle in die 1800’s waar onbesette grond deur Voortrekkers in besit geneem is. Verder is dit inderdaad so dat daar konflik tussen wit en swart stamme gedurende die Groot Trek was. Wat egter onder die mat gevee word, is dat konflik vir die doeleindes om grondgebiede te verower op daardie stadium algemene praktyk onder swart stamme was.
Met betrekking tot die aanvraag na landbougrond het AfriForum vandag onthul dat 57,8% van grondeise tot op hede vir stedelike grond was – en nié landbougrond nie. Dit is ook reeds bekend dat 93% van diegene wat grondeise ingestel het, aangedui het dat hulle finansiële vergoeding bó grondrestitusie verkies. Verder het die Instituut vir Rasseverhoudings (IRR) bevind dat slegs 1% van mense in Suid-Afrika glo dat grondhervorming hul lewens sal verbeter.
Wat die derde probleem betref, het die regering self toegegee dat meer as 90% van plase wat die staat aan swart eienaars oorgedra het, misluk het. Hoewel die Suid-Afrikaanse regering reeds meer as R45 miljard op grondhervorming bestee het, is slegs 6,3% van grond wat deur die staat aangekoop is weer na privaat besit omgeskakel.
AfriForum het ook ’n verslag getiteld Land in South Africa – A Geospatial Perspective bekend gestel. Dié verslag is opgestel deur Burgert Gildenhuys, uitvoerende direkteur van MapAble. In dié verslag word die volgende aangedui:
- 24,03% van grond in Suid-Afrika is in staatsbesit. Dié grond sluit in grond wat aan die staat behoort, voormalige tuislande en gedeeltes van voormalige tuislande, asook gebiede onder natuurbewaring. Per provinsie word dit soos volg afgebreek:
- Oos-Kaap: 34,65%
- Vrystaat: 6,5%
- Gauteng: 19,90
- KwaZulu-Natal: 52,32%
- Limpopo: 42,66%
- Mpumalanga: 32,72%
- Noord-Kaap: 11,20%
- Noordwes: 31,99%
- Wes-Kaap: 15,59%
- Totaal: 24,03%
- Data rondom grondbesit in Suid-Afrika is gebrekkig en moet dringend aangepas word ten einde ingeligte besluite te neem.
- Die grondvraagstuk in Suid-Afrika word gekoppel aan ras. Met die grondouditverslag van 2017 is daar gepoog om grond aan ras te koppel. Dié poging is egter nie akkuraat nie, omdat data wat deur die departement van binnelandse sake verskaf word nie meer burgers van die land se ras aantoon nie.
Lees die verslag hier: AfriForum – Land and land reform.