Die burgerregte-organisasie AfriForum se tak in Bethal het in samewerking met Heritage Properties op Vrydag 13 April slaggate in Bethal gevul.
Die strate waar slaggate onder meer gevul is, sluit in Kleynhansstraat (vanaf Clerq- tot by Malherbestraat) en ook Clerqstraat (vanaf Kleynhans- tot by Du Plooystraat). Die hele kruising tussen Chris Hani- en Clerqstraat se teer is ook opgeknap, aangesien dit vir motoriste gevaarlik geraak het.
Die projek het ongeveer agt ure geneem om te voltooi en 190 sakkies teer is gebruik. Daar is in 2018 reeds meer as 700 sakkies teer in Bethal gegooi, te danke aan die gemeenskap van Bethal wat teer borg om die paaie in hul woonbuurte te herstel.
“Mense weet net nie meer waar om te ry nie en moet gevaarlik uitswenk om hierdie massiewe slaggate te vermy,” sê Ingrid Human van AfriForum se Bethal-tak.
“Die gedeelte van Kleynhansstraat tussen Scheepers- (N17) en Malherbestraat is twee jaar terug tydens AfriForum se Maand van Selfstandigheid-veldtog in Bethal herstel. Dít het meer as R30 000 beloop. Daar was egter gate wat tussen die herstelde plekke begin vorm het en ons het dit spoedig herstel voor dit handuit ruk,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mpumalanga.
Raak betrokke: SMS “Bethal” na 45350 (R1).