Die burgerregte-organisasie AfriForum het op 28 November 2017 die portefeuljekomiteevergadering vir basiese onderwys bygewoon. Hierdie vergadering het gehandel oor die departement van basiese onderwys se voorgestelde wysiging van die Skolewet na aanleiding van die hoeveelheid teenkanting wat dit van die publiek gekry het.
Tydens die komiteevergadering het die departement ’n voorlegging gedoen oor die voorgestelde wysigings, asook wat die rasionaal agter elke wysiging is.
“Ongelukkig het hierdie voorlegging glad nie die bekommernisse wat oor die wysigingswetsontwerp geopper is, aangespreek nie,” sê Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys.
AfriForum het vroeër vandeesmaand ’n regsmening met indringende kommentaar rakende die gewysigde skolewetsontwerp ingedien. Dít volg omdat die wysigingswetsontwerp daarop gemik is om skoolbeheerliggame se magte daadwerklik in te perk.
Die skole wat die ergste deur hierdie wetsontwerp geraak gaan word, is juis skole wat tans die beste gehalte onderrig bied en betrokke ouergemeenskappe het, ongeag die sosio-ekonomiese omstandighede van die gemeenskap. Bloem noem verder dat provinsiale onderwysdepartementshoofde (HOD) nie almal in die posisie is om al die skole in hul provinsies optimaal te bestuur nie en daarom kan beheerliggame se regte ten opsigte van die bestuur van skole, leerders en personeel nie weggeneem word nie.
Nomalungelo Gina, voorsitter van die vergadering, het wel genoem dat die proses nog in sy beginstadium is en dat die finale wetsontwerp eers aanstaande jaar in die parlement voorgelê gaan word. Die proses wat gevolg gaan word om hierdie punt te bereik, is egter steeds onduidelik.
Cheryllyn Dudley, verteenwoordiger van die ACDP, het ook sterk aanbeveel dat skole volgens hul unieke situasies geëvalueer moet word en dat alle skole nie oor dieselfde kam geskeer kan word nie, aangesien al die skole in Suid-Afrika nie ewe funksioneel is nie.
Mohamed Surty, adjunkminister van basiese onderwys, het aangedui dat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, uitstel tot 10 Januarie 2018 vir kommentaar op die wetsontwerp gegee het.
“Baie van die voorstelle in die wysigingswetsontwerp is die gevolg van die huidige swak prestasie van en wanadministrasie binne die departement van onderwys, en nie weens gebreke in huidige wetgewing nie. Meeste van die wysigings is dus onnodig. Die departement moet in baie gevalle eerder sy plig nakom deur byvoorbeeld meer funksionerende skole te bied vir die duisende leerders wat nie toegang tot skole en gehalte-onderrig het nie,” sluit Bloem af.