AfriForum se Kempton Park-buurtwag het Sondagaand in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die plaaslike gemeenskapsreaksie-eenheid ’n vermeende verdagte in dié dorp gearresteer.
Dít volg nadat een van die buurtwaglede ’n oproep ontvang het van ’n aanranding wat besig was om in die omgewing plaas te vind en na die toneel ontbied is. Die slagoffer is daarna na die hospitaal gehaas vir mediese behandeling. Die verdagte is na die Norkem Park-polisiestasie geneem waar bevind is dat hy reeds ’n kriminele rekord vir aanranding en dwelmmisbruik het, asook dat daar ’n uitstaande lasbrief vir sy arrestasie is. Hy is gevolglik gearresteer en ’n strafregtelike klagte is teen hom aanhangig gemaak.
“Danksy goeie samewerking tussen verskillende rolspelers dien hierdie as nóg ’n bewys van die voortdurende veiligheidsuksesse wat die Kempton Park-buurtwag behaal,” sê Jan Vermaak, buurtwagvoorsitter.