As burgerregte-organisasie voer AfriForum die stryd teen plaasmoorde en -aanvalle op verskeie vlakke.
Benewens die druk wat op die regering geplaas is om plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar, neem die burgerregte-waghond ook leiding deur plaasmoorde internasionaal in die kollig te plaas deur verslae en voorleggings by verskeie internasionale konferensies aan te bied.
Lorraine Claasen, ʼn misdaadanalis en navorser van AfriForum se Navorsingsinstituut (ANI) het onlangs ʼn referaat in die VSA gelewer by die jaarlikse opleidingskonferensie van die Internasionale Vereniging van Misdaadanaliste (IACA).
IACA is ʼn professionele vereniging wat in 1990 gestig is met die doel om opleiding, inligting, netwerk-geleenthede en professionele ontwikkelingshulpbronne aan individue beskikbaar te stel wat in die misdaadanalise-professie is.
Claasen se voorlegging het gehandel oor die voorkoms van plaasmoorde en -aanvalle in Suid-Afrika. Sy het in haar voorlegging ’n oorsig van die krisis gegee en op die uitdagings gewys waarmee die SAPD en ander rolspelers te kampe het om doeltreffende misdaadanalise te doen ten einde die voorkoms van dié misdaad pro-aktief aan te pak. Sy het ook na die regering se hantering van plaasmoorde verwys wat hul nog nooit oor die erns van dié misdade uitgespreek het nie.
Volgens Claasen het sy positiewe terugvoer oor haar voorlegging gekry omdat baie mense nie werklik weet wat in Suid-Afrika aangaan nie. Sy het in haar voorlegging na die Potgieter-gesin verwys, wat in 2010 wreedaardig op hul plaas naby Lindley in die Vrystaat vermoor is.
Attie Potgieter (40) is 151 keer met ’n tuinvurk, kapmesse en ander gereedskap gesteek. Sy vrou, Wilna (36), en dogter Willemien (2) moes toekyk.
Daarna is Willemien met ’n skerp voorwerp op die kop gekap, in die kop geskiet en in die buitekamer in ’n boks gegooi. Nadat Wilna moes toekyk hoe haar man en kind vermoor word, is sy ook oor die kop gekap en na die plaashuis geneem waar sy in die nek geskiet is.
“Amerikaners is baie oningelig oor Suid-Afrikaanse misdade en weet niks van plaasmoorde af nie. Die meeste was veral geskok oor die ekstreme vlakke van brutaliteit en marteling wat met plaasaanvalle gepaard gaan,” sê Claasen.
Claasen het ook by ander internasionale misdaadanaliste soos Dermot Shea, hoof van misdaadbeheerstrategie van die New Yorkse Polisiediens, kers opgesteek oor ander moontlike vorme van misdaadanalise wat in Suid-Afrika oorweeg kan word om ’n einde aan dié tipe geweld te bring. “Inligting is ʼn baie belangrike element van misdaadbekamping. Ons hoef nie die wiel te herontwerp as dit by misdaadanalise kom nie. Daar is strukture en mense wat gewillig is om ons te help, maar die regering en polisie moet almal inkoop by die idee as ons plaasmoorde werklik wil hokslaan.”
Claasen is ook na afloop van haar voorlegging genooi om volgende jaar by ʼn kollege in Kalifornië te gaan praat oor plaasmoorde en misdaadanalise.