Die hele debat oor post-kolonialisasie en dekolonialisasie kan nie sinvol gevoer word sonder om opnuut oor die impak van die Anglo-Boereoorlog te besin nie.
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die historiese rol wat Afrikaners in die stryd teen kolonialisasie gespeel het en die invloed wat die Britse besetting, spesifiek die Anglo-Boereoorlog op die denke van Afrikaners gehad het, val buite die debat.
“Ons kan nie oor apartheid, post-kolonialisasie en dekolonialisasie praat sonder om nie weer die Anglo-Boereoorlog te konfronteer nie.”
Om tot dié debat toe te tree, het hy ’n brief aan prins William geskryf in die vorm van ’n vergelyking tussen wat met sy oumagrootjie, koningin Victoria, en sy (Hermann) se eie oumagrootjie, Hester, ’n gewone boervrou, gebeur het.
Koningin Victoria se lieflingkleinseun, Christian Victor, is in die Anglo-Boereoorlog dood en ouma Hester se seuntjie Petrus is in ’n konsentrasiekamp dood.
In die brief skryf Hermann oor die geweldige smart, lyding en trauma wat die oorlog vir Afrikaners, maar ook vir swart mense teweeg gebring het.
Hermann nooi die prins uit om Suid-Afrika te besoek in die lig van die huidige politieke debat.
Volgens Hermann het die oorlog diep letsels op die psige van mense, spesifiek Afrikaners, gelaat en dit het tot gevolg gehad dat rasseverhoudinge in die land nooit ooit weer dieselfde sou wees nie.
Ongeveer 120 000 swart soldate, waarvan tussen 30 000 en 50 000 gewapen was, het aan Britse kant aan die oorlog deelgeneem. Later is die swart soldate ingespan om die verskroeideaardebeleid uit te voer. Dit het ’n weersin laat ontstaan. Aan die ander kant was daar lojale swart werkers wie se huise ook afgebrand is en wat ook na konsentrasiekampe gestuur is.
Só was die jaar 1901 ook ’n traumajaar vir die groter Seko-familie. Ses lede van die familie, waaronder vier kinders – Andries (3), Anna (4), Groeta (3) en Raiu (2) – asook Maria (70) en Sannie (70) het in die Bloemfonteinse konsentrasiekamp omgekom.
“Dit waardeur Afrikaners is, het by hulle ’n nooit-weer-gevoel-sindroom laat ontstaan.”
Hermann het verwys na die hewige reaksie wat Tumi Morake, omroeper van Jakaranda FM, se onlangse uitlatings rondom ras en apartheid ontlok het. “’n Sweer het oopgebars en dit is nodig dat ons probeer sin maak van wat gebeur het.”
Volgens Hermann word die Afrikaner se geskiedenis gekriminaliseer. Dit het tot gevolg dat Afrikaners nou as kollektief weer na vore tree en opnuut vra: Wie is ons en waar kom ek vandaan?
Hy meen Afrikaners sien hulself as deel van die grond en van Afrika. “Ons het nie hier as Afrikaners aangekom nie, maar hier Afrikaners geword.”
Hermann meen ’n nuwe kulturele energie is besig om los te kom en dit moet positief gemobiliseer word.
Hélène Opperman Lewis, skrywer van die boek Apartheid: Britain’s bastard child, het oor die impak van trauma op mense gepraat en beklemtoon dat Suid-Afrikaners met mekaar moet praat om beter begrip vir mekaar se gevoelens van pyn, vernedering, skaamte en woede te kry. Dit is belangrik dat sulke siklusse, wat dikwels van een generasie na ’n ander oorgedra word, gebreek moet word.
Lees die brief hier: Brief Prins William verkort finaal