Afrikaans is ʼn ryk en unieke taal. Suid-Afrika sal intellektueel armer wees as daar nie plek vir die taal in sy akademie en hoër onderwysinstellings is nie.
So het Robert O’Brien, ʼn prominente advokaat van Los Angeles, Kalifornië, in ’n eksklusiewe onderhoud met Forum Nuus gesê.
O’Brien het al verskeie topposisies binne die Bush-administrasie beklee en was voorheen bekendes soos die ruimtevaarder Buzz Aldrin se regsverteenwoordiger.
O’Brien was ook destyds een van die topstudente van die Universiteit van Kalifornië se Los Angeles kampus (UCLA) wat deur ʼn internasionale beursfonds gekies is om in 1986 as uitruilstudent in Suid-Afrika te kom studeer.
Hy praat vandag nog Afrikaans en sy vrou voer maandeliks vir hom kopieë van De Kat en Huisgenoot in om te lees.
O’Brien is ʼn oudstudent van prof. Jacques du Plessis, ʼn voormalige dosent in Afrikaans aan die Universiteit van Wisconsin en UCLA, wat hom beywer vir die navorsing en ontwikkeling van taaltegnologie en taaltegnologieprodukte vir Suid-Afrikaanse tale. Een so voorbeeld is die webtuiste, Open Languages, wat ten doel het om die beste Afrikaanse onderrig kosteloos aan die internasionale gemeenskap te bied.
Volgens O’Brien het hy besluit om Du Plessis se Afrikaanse klasse by UCLA te neem, wat toe een van die min universiteite in die VSA was met ʼn Afrikaanse taalkursus, ter voorbereiding vir sy tyd in Suid-Afrika. Hy het ook met behulp van ʼn kursus aan een van die wêreldbekende Berlitz-taalskole, boeke en privaatklasse Afrikaans geleer voordat hy na Suid-Afrika gekom het.
“My vriend en destydse Afrikaanse dosent, Jacques du Plessis, het Afrikaanse studiemateriaal ontwikkel vir die Brigham Young Universiteit (BYU) en daardie studiegidse het my ook baie gehelp.”
O’Brien sê voorts dat sy tyd in ʼn Afrikaanse manskoshuis by Kovsies hom veral gehelp het om die taal te snap. “Suid-Afrikaners is na my mening die mees gasvrye mense ter wêreld en ek het dit veral by Kovsies ervaar. Die Afrikaanse studente in my koshuis het baie belanggestel in die VSA en het meer kennis gedra van ander wêreld gebeurtenisse as my Amerikaanse vriende. My klasmaats was ook baie behulpsaam en het moeite gedoen om my met Afrikaans te help.”
Hy bieg dat hoewel hy vandag nog Afrikaans kan praat, hy weens sy Amerikaanse aksent steeds sukkel om sy r’e te rol.
Ondanks Afrikaans se assosiasie met apartheid sê O’Brien is daar steeds ʼn plek daarvoor in Suid-Afrika en die internasionale akademie. “Afrikaans is verweef in die Suid-Afrikaanse geskiedenis en was ook die moedertaal van ʼn groot gedeelte van die bevolking wat teen apartheid opgestaan het. Daar is beslis vandag steeds plek daarvoor.”
Die gebruik van inheemse tale op amptelike vlak kan wel volgens O’Brien ʼn belaaide politieke kwessie wees en is nie ʼn uitdaging uniek aan Suid-Afrika nie. Hy het verwys na die aanleer van Spaans in Kalifornië, Russies in Oekraïne en Frans in Kanada, as voorbeelde van minderheidstale wat al sosiale en politieke uitdagings tussen gemeenskappe geskep het. Sy siening is egter dat hoe meer tale ’n persoon kan praat, hoe beter dit vir hom of haar is om hulself in ’n sake-omgewing, die politiek of diplomatieke sake te kan handhaaf.
“In die VSA sien ons dat minderheidsgroepe hul eie skole stig en bestuur waar die regering besluit om nie hul taal in die bestaande skole aan te bied nie. Daar gaan dalk ʼn tyd kom wat Afrikaanse mense in Suid-Afrika en Namibië óók privaatskole sal moet open om kinders van alle agtergronde in Afrikaans te leer om só tot die taal se voortbestaan by te dra.”