Die burgerregte-organisasie AfriForum se Witbank-tak het op 7 Februarie 2017 ’n wenslys aan Theo van Vuuren, bestuurder van die Emalahleni Plaaslike Munisipaliteit, oorhandig.
Dít volg nadat die tak verskeie gemeenskapsprobleme en -prioriteite geïdentifiseer het wat tot op hede nog nie deur die munisipaliteit in sy geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) aangespreek is nie.
Leon Viviers, sekretaris van AfriForum se Witbank-tak, sê dat watervoorsiening een van die grootste probleemareas is. Die opspoor en herstel van verstoppings het verbetering teweeg gebring, maar ’n groot aantal asbespype moet egter nog vervang word. Tans ervaar Witbank ’n daaglikse watertekort van 16 megaliter, met die ergste tekort wat in die oostelike gedeeltes van die dorp voorkom. “Volgens die munisipaliteit sal die probleem teen Meimaand opgelos wees. Sou Eskom egter die elektrisiteit op die beplande tye afsny, sal dit herstelwerk aansienlik rem,” aldus Viviers.
Ander probleme wat onder die munisipaliteit se aandag gebring is, sluit stadsraadsvoertuie, drinkwater, watermeters, straatligte, die wanbetaling van rekeninge en rioolprobleme in. ’n Maandelikse vergadering sal voortaan gehou word om oplossings vir bestaande probleme te probeer vind, asook om projekte vir die plaaslike tak te identifiseer.
“Uitstaande elektrisiteitsrekeninge is ook met die munisipaliteit opgeneem. Ten spyte van die ruim afslag wat aan agterstallige rekeninghouers gebied word, is daar ’n traagheid om dit te vereffen. AfriForum wil ’n beroep op elke belastingbetaler doen om sy/haar verpligtinge na te kom en te verhoed dat Eskom die elektrisiteitsonderbrekings op die voorgestelde spitstye implementeer,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se streekskoördineerder vir Mpumalanga-Wes.
“Hoë munisipale waterrekeninge is ’n ander groot probleem en die publiek word versoek om buitengewone hoë waterrekeninge onmiddellik met die stadsraad op te neem,” versoek Alf Friess, voorsitter van AfriForum se Witbank-tak.