Hoe meer innoverend daar oor onderwys, en meer spesifiek Afrikaanse onderwys gedink word, hoe meer hoop is daar vir die taal en dit wat in die klaskamer gebeur.
Dit was vandag die deurlopende boodskap van kundiges wat aan die Rapport Onderwysfonds se onderwyskonferensie in Pretoria deelgeneem het.
Dr. Jukka Alava, voormalige direkteur van die Instituut vir Opvoedkundige Leierskap by die University of Jyvaskyla in Finland, het verduidelik wat dié land se suksesresep vir suksesvolle onderrig is en waarom Finse skoliere in talle internasionale toetse die heel beste vaar.
Alava het gesê die sleutel tot suksesvolle nasiebou is die verandering van skoolleierskap. In Finland is onderwys ’n hoogs gesogte professionele beroep. Net 10% – 15% van skoolverlaters wat onderwysers wil word, word uiteindelik gekeur. “Die regte mense word onderwysers en hulle word opgelei om doeltreffende ‘instrukteurs’ te wees.”
Volgens Alava is die onderwysstelsel daarop ingestel om onderwysers en skoolhoofde te bemagtig.
Ander redes vir sukses is die fokus op individuele aandag vir leerlinge. In skole is daar ook ’n trotse leerkultuur. Die stelsel is oor die jare aangepas van gesentraliseerd tot waar skole en munisipaliteite nou self besluit hoe hulle hul kurrikulums saamstel uit die nasionale kernkurrikulum. Daar is byvoorbeeld ook met die inspekteurstelsel weggedoen en die klem val nou op selfevaluering.
Alava het daarop gewys dat tegnologie nie ’n prominente rol in onderrig speel nie. Vir die Finne is nuwe maniere van onderrig, die skep van nuwe leeromgewings, nuwe maniere om skole te bestuur en te lei en nuwe maniere van samewerking met ander skole en internasionaal belangriker.
Dr. Jaco Deacon, adjunk uitvoerende hoof van Fedsas, het gefokus op hoe die Suid-Afrikaanse skoolomgewing lyk. Hy het na interessante statistieke verwys wat daarop dui dat daar waarskynlik meer Afrikaanse skole is as wat dikwels voorgehou word.
Volgens navorsing wat Fedsas doen, is daar na raming sowat 2 500 Afrikaanse skole in die land.
Dit sluit enkel-, dubbel-, en parallelmediumskole in. Daar is na raming 1 274 enkelmedium Afrikaanse skole in die land waarvan 137 in Gauteng, 609 in die Wes-Kaap, 15 in Limpopo, 17 in Mpumalanga, 187 in Noordwes, 10 in KwaZulu-Natal, 78 in die Vrystaat en 173 in die Oos-Kaap is.
Deacon het daarop gewys dat ’n ontleding van Fedsas gewys het dat die staat wat die bou skole betref, glad nie sy kant die afgelope twee dekades in veral Gauteng gebring het nie. In 1999 was daar 1 900 skole in dié provinsie teenoor 2 083 in 2016. Dít terwyl die aantal skoliere oor die jare drasties toegeneem het en vanjaar in Gauteng alleen meer as 2 miljoen is. Bykans 17% van skoliere is in Gauteng. “Die staat het glad nie hiervoor voorsiening gemaak nie. Dit lyk eerder of daar meer inkopiesentrums as skole hier gebou word.”
Deacon het voorts gesê as na skooluitslae gekyk word, is dit duidelik dat 10% van skole vir die ontwikkeling van 90% van die land se intellektuele kapasiteit verantwoordelik is. “Daar is groot potensiaal in Afrikaanse skole wat die land broodnodig het.”
Anastasia de Vries, dosent in Afrikaans/Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland, het oor Afrikaans as vak in hoër onderwys gepraat. Sy het gesê sy deel die kommer en vrese wat daar oor die voortbestaan van Afrikaans as onderrigmedium aan universiteite is. “Die werklikheid is egter dat daar hoop op vakvlak is. Die UWK het vanjaar 369 eerstejaars gehad wat Afrikaans as vak neem, 110 tweedejaars en 90 derdejaars. By die Universiteit van Stellenbosch (US), is die syfers onderskeidelik tussen 350 en 400, 90 en 50.
De Vries het gesê die toekoms van Afrikaans lê ook in departemente wat die taal aanbied. Die klem moet nie net op Afrikaans as onderrigtaal val nie.