Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch
Hoewel die meeste verbruikers ’n sug van verligting slaak na afloop van die 2016 begrotingsrede, is die sakeregte-waghond AfriSake van mening dat die minister van finansies egter versuim het om buitelandse beleggers te oortuig om opnuut te belê in die Suid-Afrikaanse ekonomie.
“Die minister het met baie entoesiasme begin en Suid-Afrikaners en buitelandse beleggers was gretig om te hoor wat hy te sê gehad het. Beleggers is sekerlik nie beïndruk ná ‘n middelmatige poging om hulle te oortuig dat Suid-Afrika steeds ʼn veilige hawe is nie,” sê Armand Greyling, regs- en beleidsanalis van AfriSake.
Greyling meen dat hulle meer verwag het ten opsigte van hoe die regering se besteding gemonitor en verminder gaan word. Hy verduidelik dat hoewel buitelandse beleggers nie die belangrikste rolspelers is nie, beïnvloed hulle grotendeels ekonomiese groei in die land.
Volgens Greyling was die toename in brandstofheffings, sondebelasting, kapitaalwinsbelasting en so meer alles te wagte, maar die bekendmaking van ‘n nuwe suikerbelasting en motorbandheffing het Suid-Afrikaners heel moontlik verras.
“Ek stem nie saam met die minister se uitlating dat dit ’n gesonder leefstyl in Suid-Afrika sal bevorder nie. Mense rook en drink steeds ondanks die jaarlikse heffing op sondebelasting.”
Greyling sê voorts dat daar weer eens baie melding gemaak is van die regering se planne met betrekking tot kwessies soos onderwys, werkloosheid, infrastruktuur, armoede en transformasie. “Dit was goed om hierdie sosiale probleme onder die loep te neem en te verduidelik hoe en wat finansieel gedoen gaan word om ‘n paar van die kwessies te hanteer.”
Die minister het ook in sy toespraak gesê dat R16,3 miljard oor die volgende drie jaar aan universiteite oorgedra sal word na die belofte dat studiegeld nie verhoog sal word nie. R2,5 miljard gaan na die nasionale studente finansieringshulpskema (Nsfas) vir uitstaande studenteskuld. ’n Verdere R8 miljard is bewillig om huidige studente te help om hul studies te voltooi.
Oor die algemeen het Greyling gesê dat Gordhan moes doen wat president Zuma versuim het om te doen in sy staatsrede.
“Dit was nodig om vir ons te sê wat die regering se planne is, hoeveel begroot word vir alles asook wat die gevolge van die begroting op die ekonomie en landsburgers gaan wees. Ons het verwag Gordhan sal dit doen, maar ongelukkig het dit nie gebeur nie.”
Luidens media berigte sal die heffing op suiker in Maart 2017 geïmplementeer word.
Forum Nuus het by ’n paar mense gaan uitvind wat die begrotingsrede vir hulle beteken:
Vena Strauss (60), ontvangsdame, sê die regering raak al hoe meer kreatief in sy pogings om geld te kry. “Ek dink glad nie dit gaan ‘n verskil maak in die leefstyl van Suid-Afrikaners nie. Mense rook en drink nog steeds met verhoogde sondebelasting.”
Cyril Blackburn (23) is ’n joernalis. “Ek glo nie suikerbelasting gaan juis ’n verskil aan mense se gesondheidstoestand maak nie. “Die heffing van belasting op suiker is net ‘n geldmaakfoefie van die regering.”
Phillip Mokoape (48) ’n sekuriteitswag, sê dat sy kruideniersware reeds vir hom baie duur is. “Hoeveel duurder gaan dit nou wees as daar belasting is op suikerprodukte? Ek verstaan nie hoekom hulle nie sondebelasting eerder duurder maak nie.”
Chané Scheepers (22) ’n fisioterapie-student sê dat sy finansiële druk kan voel, veral met ’n studentebegroting. “Almal het ’n beursie, dus beïnvloed die nasionale begroting ons almal.”
Milan Bye (24) ’n web-ontwerper meen dat hoewel suikerbelasting nie Suid-Afrikaners se soettand gaan trek nie, gaan almal se begroting aangepas moet word. “Ek dink benewens die suikerbelasting gaan ons ook deur die loop van die jaar die gevolge van die droogte sien in ons begrotings vir kruideniersware.”