Selfdoen aksies
Maskers vir almal! AfriForum ondersteun internasionale veldtog.
AfriForum het besluit om ook deel te neem aan die internasionale #Masks4All-veldtog wat mense aanmoedig om self maskers te maak en in die openbaar te dra.
Klik hier vir instruksies en ’n patroon om jou eie masker met ’n naaldwerkmasjien te maak.
Klik hier vir instruksies en ’n patroon om jou eie masker uit ’n T-hemp te maak.
Dit werk in ander lande
Lande in Asië (soos Suid-Korea, Singapoer en Hong Kong) presteer tans beter in die bestuur van die COVID-19-pandemie vergeleke ander lande. Een van die opmerklike verskille tussen dié lande in Asië en die res van die wêreld is dat die meerderheid mense in die openbaar maskers dra. As ’n plan elders werk, is dit die moeite werd om dit ook plaaslik te toets.
COVID-19-verspreiding
Een van die eienskappe van COVID-19 wat dit help om vinnig te versprei, is dat baie mense wat COVID-19 onder lede het min tot geen simptome toon nie, of eers ná ’n paar dae simptome toon. In hierdie tyd wat geen simptome aanwesig is nie, kan die siekte van die siek persoon na ander mense oorgedra word.
Tuisgemaakte maskers kan ook help
Mediese personeel soos dokters en verpleegkundiges gebruik N95- en chirurgiese maskers om hulself te beskerm. Navorsing het egter bewys dat ’n masker van dubbele laag suiwerkatoenlap (soos T-hemp materiaal) wat oor mens se mond en neus pas baie help om die verspreiding van spoegdruppels te voorkom – en dié maskers kan mens boonop self maak.
Waarom ’n masker in die openbaar dra?
Daar is drie redes waarom dit sinvol is om ’n masker te dra as jy in die openbaar is (byvoorbeeld in ’n winkel).
- Jy beskerm ander mense deur nie die virus te versprei as jy dit dalk sou hê nie.
- Jy beskerm jouself deur die kans te verminder om die siekte op te doen wanneer jy in die openbaar is.
- Jy verminder aanraking aan jou mond en neus omdat iets jou gesig bedek.
Wat kan jy doen?
Daar is ses dinge wat jy kan doen:
- Maak ’n masker vir jouself en jou geliefdes. (Sien die aanwysings op masks4all.co.)
- Indien jy kan, maak ook maskers vir jou gemeenskap. (Gehoorsaam altyd die inperkingsmaatreëls.)
- Dra ’n masker wanneer jy in die openbaar is.
- Gebruik maskers op die regte wyse.
- Versprei die boodskap dat dit goed is om ’n masker in die openbaar te dra.
- Hou steeds aan om al die ander dinge te doen wat nodig is om die verspreiding van die virus te beperk: Handhaaf sosiale afstand; was jou hande gereeld; moenie aan jou gesig vat nie; handhaaf goeie higiëne; en hou jou werk- en leefruimte skoon.
Jy kan ’n verskil maak!
Jy en jou gemeenskap is nie magteloos in die stryd teen COVID-19 nie. Neem deel aan hierdie projek en bring hoop deur ’n positiewe verskil te maak!
Jy kan meer hieroor gaan lees by masks4all.co