Header Artwork

Wat is my regte?

Wat is my regte?

Inleiding

Die regering het op 15 Maart 2020 ’n nasionale ramptoestand afgekondig om die omvang en grootte van die COVID-19-pandemie aan te spreek. Dié ramptoestand verval ná drie maande, tensy dit vroeër opgeskort word. Dit kan egter ook vir ’n maand op ’n keer verleng word.[1]

Die President het op 23 Maart ’n aanvanklike 21 dae lange inperking afgekondig. Die inperkingstyd is later tot 30 April verleng. ’n Noodtoestand is egter nog nie afgekondig nie.[2] Dit beteken dat die regte wat in die Handves van Regte beskerm word, steeds van krag is, maar beperk word – op voorwaarde dat die beperkings redelik en regverdigbaar is in ’n oop en demokratiese samelewing wat op menslike waardigheid, gelykheid en vryheid gebaseer is.[3]

Dié verslag lys die beperkinge wat geplaas is op regte en vryhede wat in die Handves van Regte opgeneem is. Dit is uiters belangrik dat ons grondwetlike regte in dié krisistyd beskerm word. Die prys vir vryheid is ewige paraatheid; ons moet ’n oog op die regering hou om te verseker dat dit nie sy magte misbruik nie. Ons moet die onredelike beperking van ons regte uitdaag. Sodra die krisis verby is, moet die huidige beperkings omgekeer word om te verseker dat ons na ’n vry en voorspoedige Suid-Afrika terugkeer.

Nuwe regulasies word egter gereeld afgekondig, en die verslag sal dienooreenkomstig bygewerk word.

 Vryheid van beweging, verblyf en vergadering

Regte

Elkeen het die reg op vryheid van beweging. Hulle het die reg om Suid-Afrika binne te kom, te verlaat en in Suid-Afrika te woon.[4]

Elkeen het die reg om vreedsaam en ongewapen te vergader, te betoog, ’n betooglinie te vorm en petisies voor te lê.[5]

Beperkings

Munisipaliteite is beveel om alle openbare fasiliteite te sluit wat nie noodsaaklike dienste lewer nie. Dit sluit swembaddens, strande, biblioteke, gemeenskapsale, ontspanningsentrums, museums, galerye,  markte, parke en geleenthede in.[6] 

Gemeenskapsbyeenkomste, troues en ander feestelikhede is verbode. Begrafnisse mag voortgaan, maar roubeklaers word beperk tot nabye familie en hoogstens 50 mense.[7]

Geen permitte word uitgereik vir optogte, protesaksies en die oorhandiging van petisies nie.[8]

Elke mens word tot hul woonhuis beperk, buiten uitsluitlik vir die doel om noodsaaklike dienste te verrig, noodsaaklike goedere en dienste te bekom, sosiale toelaes en pensioene te kry of om nood-, lewensreddende of chroniese mediese dienste te bekom.

Beweging tussen provinsies en metropolitaanse en distriksgebiede word verbied, buiten vir noodsaaklike werkers, die vervoer van vrag en stoflike oorskot, of om begrafnisse by te woon.[9]

Gevalle

’n Bruid en bruidegom is op 5 April in Richardsbaai in hegtenis geneem saam met hul 50 gaste en die pastoor wat die seremonie gelei het, omdat hulle die beperking op huweliksfeeste oortree het.[10]

Ekonomiese aktiwiteite

Regte

Elke burger het die reg om hul bedryf, beroep of professie vrylik te beoefen.[11]

Beperkings

Alle sakeondernemings en ander entiteite moet alle bedrywighede tydens die inperking staak, buiten enige ondernemings of entiteite wat noodsaaklike goedere of dienste vervaardig of voorsien. Kleinhandelaars en inkopiesentrums moet gesluit wees, buiten waar noodsaaklike goedere verkoop word. Kleinhandelaars wat noodsaaklikhede verkoop, word belet om enige ander goedere te verkoop.[12]

 Kinders, gesin en onderwys

Regte

Elke kind jonger as 18 jaar het die reg op gesin- en ouersorg, of om alternatiewe sorg te bekom wanneer hulle uit hul gesinsomgewing weggeneem word. Hulle het die reg om teen mishandeling, verwaarlosing, misbruik of vernedering beskerm te word, en mag nie aangehou word nie, buiten as ’n laaste uitweg, en dan moet hulle aangehou word afsonderlik van ander aangehoudenes wat ouer as 18 jaar is. ’n Kind se beste belange is van deurslaggewende belang in enige aangeleentheid wat die kind raak.[13]

Elkeen het die reg op basiese onderwys en toegang tot verdere onderwys.[14]

Beperkings

Skole en gedeeltelikesorgfasiliteite is tot verdere kennisgewing gesluit.

Kinders in kinder- en jeugsorgsentrums mag nie uitgelaat word of besoekers ontvang nie. Mense in ouetehuise, verswaktesorgfasiliteite en fasiliteite vir mense met gebreke mag nie uitgelaat word of besoekers ontvang nie.[15]

Kinders moet in die bewaring bly van daardie ouer by wie hulle was toe die inperkingstydperk begin het. Hulle word belet om tussen ouers te beweeg, buiten wanneer ’n reëling getref is om die kind van een ouer na ’n ander te neem ingevolge ’n hofbevel of ooreenkoms wat by die kinderadvokaat geregistreer is. Geen persoon van die huishouding waarheen die kind geneem word, mag die virus onder lede hê of daarvan vermoed word dat hulle die virus onder lede het nie. Die persoon wat die kind vervoer, moet ’n gesertifiseerde afskrif van die hofbevel of ooreenkoms by hul hê.[16]

Howe kan bevele uitreik oor pleegsorg, aanneming, die verwydering van kinders wat sorg en beskerming benodig, the plasing van kinders in kinder- en jeugsorgsentrums, en in internasionale kinderontvoeringsake.[17]

 Die reg en howe  

Regte

Elkeen het die reg op ’n regverdige openbare verhoor in ’n hof om ’n wetsdispuut by te lê.[18]

’n Persoon wat in hegtenis geneem is, het die reg om binne 48 uur voor ’n hof te verskyn en om aangekla te word, óf ingelig te word van die rede vir die voortsetting van hul aanhouding, óf om vrygelaat te word.[19]

’n Aangehoudene het die reg om te weet waarom hulle aangehou word en om met ’n prokureur te konsulteer. Hulle het die reg om die wetlikheid van hul aanhouding te betwis en vrygelaat te word as hulle onwettig aangehou word. Hulle het die reg om te kommunikeer met en besoek te word deur hul gesin, gosdiensraadgewer en dokter.[20]

Beperkings

Toegang tot die howe en hofgebiede word slegs toegelaat in geval van dringende en noodsaaklike sake.[21]

Die balju mag slegs bevele beteken en uitvoer in dringende en noodsaaklike gevalle. Dit sluit in bevele oor COVID-19, beskermingsbevele vir huishoudelike geweld en teistering, en eise wat voorskrywend is. Uitsettingsbevele word vir die duur van die staat van inperking opgeskort.[22]

Geen verhoorafwagtende aangehoudenes in korrektiewe sentrums en polisie-aanhoudingselle mag voor enige hof of in enige hofgebied gebring word nie, buiten vir ’n eerste verskyning, ’n borgtogaansoek of ’n saak waarvoor daar spesiale reëlings getref is met die regsbeamptes wat met die saak gemoeid is.[23]

Prokureurs word slegs toegelaat om na die hof te reis vir sake wat as dringende sake geklassifiseer is. Hulle mag wel na ’n polisiestasie gaan om polisieborgtog te reël ná bevestiging deur die ondersoekbeampte.[24]

 Vryheid van uitdrukking

Regte

Elkeen het die reg op vryheid van uitdrukking, insluitend die pers en ander media, asook die vryheid om inligting of idees te ontvang of te deel.[25]

Beperkings

Dit is ’n misdaad om opsetlik voor te gee dat iemand met die koronavirus geïnfekteer is.[26]

Dit is ’n misdaad om enige mededeling te publiseer met die doel om enige ander persoon te mislei oor COVID-19, oor die COVID-19-infeksiestatus van enige persoon of oor enige maatreëls wat deur die regering afgekondig is om COVID-19 aan te spreek. ’n Oortreder kan beboet word en/of gevangenisstraf van ses maande opgelê word.[27]

Gevalle

’n Man is op 7 April in Kaapstad in hegtenis geneem nadat hy ’n video gemaak en versprei het waarin hy aanvoer dat die regering 10 000 werkers gaan uitstuur om deur-tot-deur-toetse vir COVID-19 uit te voer. Hy het mense gemaan om dié toetse te weier omdat die toetse met die virus besmet kon wees.[28]

 Privaatheid

Regte

Elkeen het die reg op privaatheid, insluitend die reg dat hul persoon, woning of eiendom nie deursoek word nie, daar nie op hul besittings beslag gelê word nie of dat die privaatheid van hul kommunikasie nie geskend word nie.[29]

Beperkings

Die Direkteur-Generaal van Gesondheid beskik oor die mag om internet- en selfoondiensverskaffers te dwing om die ligging en bewegings bekend te maak van enige persoon wat COVID-19 onder lede het of met redelike sekerheid COVID-19 opgedoen het, of enigeen met wie hulle in aanraking was. Dié inligting mag slegs gebruik word deur gemagtigde personeel om die verspreiding van COVID-19 aan te spreek, te voorkom of te beveg. ’n Verslag met die name van die persone wat gemoniteer word, moet by ’n afgetrede regter ingedien word. Die inligting moet ná ses weke vernietig word. Elkeen wat gemoniteer was, moet binne ses weke ná die einde van nasionale ramptoestand hiervan ingelig word.[30]

 Veiligheid en menswaardigheid

Regte

Elkeen het ingebore waardigheid en die reg dat dié waardigheid gerespekteer en beskerm word.[31]

Elkeen het die reg op vryheid en sekerheid van die persoon, wat insluit die reg om nie arbitrêr of sonder billike rede van vryheid ontneem te word nie, om nie sonder verhoor aangehou te word nie, om vry te wees van alle vorme van geweld van sowel openbare of privaat oorsprong, om nie op enige wyse gemartel te word nie en om nie op wrede, onmenslike of vernederende wyse behandel of gestraf te word nie.[32]

Elkeen het die reg op liggaamlike en sielkundige integriteit, wat insluit die reg om besluite oor voortplanting te neem, die reg op sekuriteit van en beheer oor hul liggaam, en om nie sonder hul ingeligte toestemming aan mediese en wetenskaplike eksperimente onderwerp te word nie.[33]

Beperkings

’n Persoon wat aan COVID-19 ly of vermoedelik daaraan ly, of met ’n draer in kontak was, mag nie toestemming vir ’n mediese ondersoek weier nie. Dit sluit in die neem van ’n liggaamlike monster, opname in ’n gesondheidsfasiliteit of plek van kwarantyn of isolasie, of onderwerping aan verpligte profilakse, behandeling, isolasie of kwarantyn.[34]

Gevalle

Daar is berigte dat die SAPD brutale maatreëls gebruik om die staat van inperking af te dwing.[35] Die onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (OPOD) het klagtes ontvang dat mense deur die SAPD aangerand en gedood is. Teen 26 Maart het OPOD reeds 14 aanrandings, een verkragting en agt sterftes weens polisieaksie aangeteken.[36]

Samevatting

Die redelikheid van hierdie beperkings op die Handves van Regte sal deurlopend geëvalueer word. Hoewel die erns van die gesondheidskrisis nie onderskat moet word nie, moet die belangrikheid om ons Grondwet te respekteer nie vergeet word nie.

 

Advokaat vir AfriForum

Mark Oppenheimer

———————————————————————————————————————————————————————————————————

[1]    Artikel 27(5) van die Wet op Rampbestuur 57 van 2002.

[2]    Artikel 37 van die Grondwet.

[3]    Artikel 36 van die Grondwet.

[4]    Artikel 21 van die Grondwet.

[5]    Artikel 17 van die Grondwet.

[6]    Artikel 6.5.2(a) van die Wet op Rampbestuur 57 van 2002; voorskrifte deur die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake ingevolge Artikel 27(2).

[7]    Artikel 8 van die Wet op Rampbestuur 57 van 2002; voorskrifte deur die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake ingevolge Artikel 27(2).

[8]    Artikel 6.5.2(b) van die Wet op Rampbestuur 57 van 2002; voorskrifte deur die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake ingevolge Artikel 27(2).

[9]    Wet op Rampbestuur 57 van 2002; voorskrifte op 2 April 2020 uitgereik deur die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake ingevolge Artikel 27(2).

[10]   BBC News. 2020. Coronavirus: South African bride and groom arrested over lockdown wedding. 6 April. Beskikbaar by https://www.bbc.com/news/world-africa-52183152. Geraadpleeg op 8 April 2020.

[11] Artikel 12 van die Grondwet.

[12] Artikel 11B van die Wet op Rampbestuur 57 van 2002; voorskrifte op 26 Maart 2020 uitgereik deur die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake ingevolge Artikel 27(2).

[13] Artikel 28 van die Grondwet.

[14] Artikel 29 van die Grondwet.

[15] Artikel 6 van die voorskrifte van die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling ingevolge Regulasie 10(5) van die regulasies gepubliseer in die Staatskoerant 43107, staatskennisgewing 318 van 18 Maart 2020.

[16] Artikel 6 van die voorskrifte van die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling ingevolge Regulasie 10(5) van die regulasies gepubliseer in die Staatskoerant 43213, staatskennisgewing 455 van 7 April 2020.

[17] Artikel 5 van die voorskrifte ingevolge Regulasie 10(2) gepubliseer in die Staatskoerant 43107, staatskennisgewing 318 van 18 Maart 2020 afgekondig deur die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste ná konsultasie met die Hoofregter op 31 Maart 2020.

[18] Artikel 34 van die Grondwet.

[19] Artikel 35 van die Grondwet.

[20] Artikel 35 van die Grondwet.

[21] Artikel 2(b) van die voorskrifte ingevolge Regulasie 10(2) gepubliseer in die Staatskoerant 43107, staatskennisgewing 318 van 18 Maart 2020 afgekondig deur die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste ná konsultasie met die Hoofregter op 31 Maart 2020.

[22]   Artikel 2(b) van die voorskrifte ingevolge Regulasie 10(2) gepubliseer in die Staatskoerant 43107, staatskennisgewing 318 van 18 Maart 2020 afgekondig deur die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste ná konsultasie met die Hoofregter op 31 Maart 2020.

[23] Artikel 5 van die voorskrifte ingevolge Regulasie 10(2) gepubliseer in die Staatskoerant 43107, staatskennisgewing 318 van 18 Maart 2020 afgekondig deur die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste ná konsultasie met die Hoofregter op 31 Maart 2020.

[24] Artikel 9 van die voorskrifte ingevolge Regulasie 10(2) gepubliseer in die Staatskoerant 43107, staatskennisgewing 318 van 18 Maart 2020 afgekondig deur die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste ná konsultasie met die Hoofregter op 31 Maart 2020..

[25] Artikel 16 van die Grondwet.

[26] Artikel 11(4) van die Wet op Rampbestuur 57 van 2002; voorskrifte op 18 Maart 2020 uitgereik deur die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake ingevolge Artikel 27(2).

[27] Artikel 11(5) van die Wet op Rampbestuur 57 van 2002; voorskrifte op 18 Maart 2020 uitgereik deur die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake ingevolge Artikel 27(2).

[28]   Grobler, R. 2020. Man who posted fake ‘contaminated Covid-19 test kits’ video arrested. News24, 7 April. Beskikbaar by https://www.news24.com/SouthAfrica/News/man-who-posted-fake-contaminated-covid-19-test-kits-video-arrested-20200407. Geraadpleeg op 8 April 2020.

[29] Artikel 14 van die Grondwet.

[30] Artikel 11H van die Wet op Rampbestuur 57 van 2002; voorskrifte op 2 April 2020 uitgereik deur die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake ingevolge Artikel 27(2).

[31] Artikel 10 van die Grondwet.

[32] Artikel 12 van die Grondwet.

[33] Artikel 12 van die Grondwet.

[34] Artikel 4 van die Wet op Rampbestuur 57 van 2002; voorskrifte op 25 Maart 2020 uitgereik deur die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake ingevolge Artikel 27(2).

[35]   Knoetze, D. 2020. Police kill three people in three days of lockdown. This is normal for South Africa. GroundUp, 1 April 2020. Beskikbaar by https://www.groundup.org.za/article/police-kill-three-people-three-days-lockdown-normal-south-africa-data-reveals/. Geraadpleeg op 8 April 2020.

[36]   Verwys na https://www.documentcloud.org/documents/6824649-IDATED-IPID-CASES-26-MARCH-20-at-MIDNIGHT-to-02.html.

Lede van die publiek wie se regte geskend word kan hierdie vorm invul

Dra tot ons projekte en aksies by

Baie dankie dat jy dit oorweeg om ’n skenking aan AfriForum te maak – enige bedrag is welkom en help ons om ons belangrike werk voort te sit. Ons waardeer dit opreg. 

Solidariteit Beweging NOODFONDS

Solidariteit Beweging NOODFONDS

Die Solidariteit Beweging het ‘n noodfonds in die lewe geroep om die maatskaplike nood wat as gevolg van die Covid-19-krisis gaan ontstaan, te verlig. 

AfriForum

AfriForum

Skenk geld aan AfriForum om te help verseker dat die Afrikaner as minderheidsgroep vry, veilig en voorspoedig aan die suidpunt van Afrika kan voortbestaan.

Taknoodfonds

Taknoodfonds

AfriForum se takke sal skenkings vanuit die gemeenskap gebruik om op plaaslike vlak probleme voortspruitend uit die COVID-19-pandemie aan te spreek.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN