Header Artwork
Malema en Ndlozi se aanrandingsverhoor onder ongewone omstandighede uitgestel

Die verhoor van Julius Malema, leier van die EFF, en Mbuyiseni Ndlozi, EFF-LP, is onder ongewone omstandighede weereens uitgestel. Sowel Malema as Ndlozi moes vandag in die landdroshof in Randburg verskyn het weens die beweerde aanranding van SAPD-kolonel Johannes Venter.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het tot die saak toegetree ná dit voorgekom het of daar inmenging in die saak was. Tydens vorige verrigtinge het die hof nie net gehoor dat die oorspronklike saakdossier verdwyn het nie, maar ook dat daar met van die fotobewysstukke gepeuter is.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid is vandag met hul aankoms by die hof ingelig dat die beskuldigdes se regspan en die staat glo ooreengekom het om die saak uit te stel. Geen van die ander betrokke partye is hiervan ingelig nie.

“Dié wending is uiters ongewoon en baie kommerwekkend. Ek is redelik oortuig daarvan dat die gewone man op straat nie dieselfde voorkeurbehandeling sou ontvang nie – veral nie ná ’n hof reeds bepaal het wanneer hulle weer moet verskyn nie. Dit lyk ook of dit ’n gewoonte van Malema raak om nie vir verskynings op te daag nie. Hy het ook nie in Oos-Londen verskyn nie op die klag van die onwettige afvuur van ’n vuurwapen wat AfriForum teen hom gelê het,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogtebestuurder.

“Dit wil voorkom of daar ’n uitstelkultuur in die strafregstelsel posgevat het. AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal aanhou om hierdie saak noukeurig dop te hou en toe te sien dat geregtigheid geskied,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

  • Die saak kom weer 6 tot 9 Desember voor die hof.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN