Header Artwork
Jannie du Toit gaan aanhangers regoor die wêreld met nuwe vertoning vermaak

Deur Alet Rademeyer

Jannie du Toit (70), bekende en begaafde liedjieskrywer en sanger, vier eerskomende Sondag ’n halfeeu in die musiekbedryf  met ’n spesiale vertoning, Kunstefees in die kleine, in die AfriForum Teater.

Die vertoning bestaan uit drie produksies en word Suid-Afrikaanse tyd om 11:00 (Die maan deur ’n gaatjie in die nag), 15:00 (beSTEMmings) en 19:00 (Soli Deo Gloria) aangebied.

Kaartjies kos R150 per persoon per vertoning (R120 vir pensioenarisse) vir teatergangers wat dit bywoon. Die vertonings word egter ook regstreeks gestroom. Aanhangers kan teen slegs R150 die hele dag se gebeure meemaak – waar hulle hul ook al in die wêreld bevind. Twee bonus aanlyn konserte vul ook nog die gapings tussen die dag se drie verhoogkonserte: Oesjaar en Kiekies – Lucas Maree se liedjies.

Oor vyftig jaar in die bedryf sê Du Toit die gevoel is maar tipies van tyd. Aan die een kant voel dit soos nou die dag dat sy loopbaan afgeskop het en aan die ander kant soos lank gelede.

Du Toit sê hy is baie dankbaar hoe sy pad met musiek geloop het en vir al die geleenthede wat na sy kant gekom het.

Hy is uitgesproke daaroor dat hy nooit musiek gemaak het volgens “die spesifieke resep van die tyd nie”. Dit was altyd vir hom belangrik dat musiek en liriek nie bloot ’n handelsmerk moet wees nie. “Ek het nooit probeer om kommersieel te wees nie en dit het nie vir my saak gemaak dat ek minder as ander kunstenaars verkoop het nie. Vir my is dit belangrik dat ek aan die einde moet voel dat ’n liedjie wat ek geskryf het tog iets beteken en my hart bevredig.”

Sy eerste amptelike “openbare” optrede was in 1971 toe Fanus Rautenbach sy Flinkveria-konsert by Bronkhorstspruit gehou het. Du Toit se twee niggies het saam met Rautenbach getoer, gesing en klavier gespeel. Daar was een spesifieke lied wat hy wou gehad het hulle moet sing en toe vra hy of hulle nie iemand ken wat kitaar kan speel nie. Die res is geskiedenis. ’n Plaat is oor die fees uitgebring en dit is ook oor die radio uitgesaai.

Dieselfde jaar het hy saam met Morg Jacobs begin sing en Trilogie het tot stand gekom en liedjies soos Boggom en Voetsek was van die eerstes wat hulle gesing het.

Baie toere en optredes plaaslik en oorsee sou daarna volg. Du Toit het in 21 lande opgetree en 25 jaar lank sou sy musiekreis ook wyle Christa Steyn, begaafde pianis en komponis, insluit. Almal onthou van die Jannie en die tannie-dae in die 1990’s.

Du Toit het verskeie musiekblyspele soos Luister na die Liedjies, Loeloeraai en Gansdans die lig laat sien wat bygedra het tot die Afrikaanse musiekskat.

Du Toit se bekendste liedjie is waarskynlik ’n Liedjie vir jou, terwyl ander soos Drie-uur in die môre, Volgende winter, Vrede vanaand en Ons twee vir hom ook uitstaan. Nog een van sy bestes is Jy kyk sag wat hy vir sy vrou Therina geskryf het.

Wat Sondag se vertoning betref, is beSTEMmings die vlagskip-produksie van Du Toit se halfeeuviering. Dit bestaan uit liedjies wat hyself gekies het en sowat 20 kunstenaars tree saam op. Onder hulle is Coenie de Villiers, Anna Davel, Lochner de Kock, Laurinda Hofmeyr en Gisela de Villiers. “Ek het besluit dié vertoning gaan net Afrikaans wees en dit gaan ’n viering van my en my liewe, liewe vriende se musiek wees.”

Koop hier kaartjies vir fisiese vertoning en hier vir die aanlyn vertoning.

 

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN