Header Artwork
AfriForum wen dekade lange stryd om by VN te registreer

Die burgerregteorganisasie AfriForum het pas bevestiging ontvang dat dié organisasie nou amptelik by die Verenigde Nasies (VN) as nieregeringsorganisasie met spesiale raadgewende status geregistreer is. Dié status bied aan AfriForum verskeie geleenthede en voorregte om die organisasie se werk op groter skaal in die raadsale van die VN voort te sit. Die deurbraak is gemaak ten spyte daarvan dat die Suid-Afrikaanse regering vir jare aktief gewerk het om hierdie geleenthede van AfriForum te ontneem.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, verduidelik dat die Suid-Afrikaanse regering se verteenwoordiger by die VN-hoofkantoor in New York hom destyds meegedeel het dat hy vanuit Pretoria instruksie gekry het om te verhoed dat AfriForum by die VN se afdeling vir nieregeringsorganisasies (’n onderafdeling van ECOSOC) geregistreer word. Die verteenwoordiger het sover gegaan as om te sê dat die regering se pogings in dié verband nie persoonlik is nie, maar bloot polities gedrewe.

“Die verteenwoordiger het in 2015 aan my verduidelik dat die Suid-Afrikaanse regering AfriForum se registrasie in dié verband teenstaan omdat AfriForum volgens die regering ‘te veel praat’ en ‘te arrogant’ is,” sê Roets. “Hy het toe gesê dat hy met Suid-Afrika se alliansievennote in verbinding gaan tree om toe te sien dat AfriForum se aansoek nie slaag nie. Hy het dié alliansievennote by name genoem: China, Zimbabwe, Kuba en Soedan.”

Roets het die verteenwoordiger gevra om te verduidelik waarom AfriForum volgens die regering te arrogant is. Die verteenwoordiger het toe verwys na sowel AfriForum se veldtog teen plaasmoorde as die feit dat AfriForum beswaar gemaak het teen die uitnodiging aan die voormalige Zimbabwiese president, Robert Mugabe, om die presidensiële inhuldiging van Jacob Zuma by te woon.

Roets sê voorts dat die regering wel daarin kon slaag om die aansoekproses vir jare te vertraag (AfriForum het die eerste registrasieaansoek al in 2011 ingedien). “Ons is egter bly om vandag te kan aankondig dat die regering se pogings om minderhede by die VN te sensor uiteindelik misluk het.”

Die voorregte en geleenthede wat met spesiale raadgewende status verband hou, sluit onder meer in dat AfriForum:

  • insette kan lewer en aan die werk van ECOSOC kan deelneem;
  • hierdie forums kan benut om deskundige raad in te win en te deel oor kwessies waarmee AfriForum gemoeid is;
  • verteenwoordigers by die VN-kantore in New York, Genève en Wene kan aanwys om die organisasie by verskeie forums en vergaderings te verteenwoordig;
  • as waarnemer kan insit by verskeie vergaderings van ECOSOC-liggame, die Menseregteraad en in sekere gevalle ook die VN se Algemene Vergadering;
  • by verskeie van dié forums geskrewe en selfs mondelinge voorleggings kan maak oor kwessies waarmee AfriForum gemoeid is;
  • met die onderskeie kantore van die VN se sekretariaat kan konsulteer;
  • verslae oor verskeie onderwerpe mag indien;
  • by hierdie forums die geleentheid gebied word om aan informele gesprekke met VN-rolspelers deel te neem;
  • toegang tot die VN se mediadokumentasiedienste het; en
  • toegang tot die VN se biblioteek het.

AfriForum moet ook elke vier jaar aan die VN verslag doen oor die werk wat die organisasie doen.

Roets sê dat AfriForum hierdie stap as ’n oorwinning beskou – ook vir die organisasie se #DieWêreldMoetWeet-veldtog, wat vroeër vanjaar van stapel gestuur is. “AfriForum sal by hierdie vergaderings veral sterk standpunt inneem oor onteiening sonder vergoeding, plaasmoorde, korrupsie en minderheidsregte. Ons sien daarna uit om ons netwerke in die internasionale sfeer uit te brei en ons kennis en ervaring met ander organisasies te deel.”

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN