Header Artwork
AfriForum skop #AnkerdorpPadskou in Krugersdorp af

AfriForum het sy #AnkerdorpPadskou op 3 September 2019 in Krugersdorp afgeskop om die burgerregteorganisasie se teenwoordigheid in dié dorp te verhoog en saam met die gemeenskap hoop te skep.

Die gebied rondom die Paul Kruger-monument is skoongemaak, sodat dit weer netjies vertoon en die gemeenskap dit veilig kan besoek. Later die week is Eco-Tabs™ in die dam naby die monument gegooi om die water gedeeltelik te rehabiliteer. Die damwater word dikwels besoedel omdat inwoners daar visvang.

Drie plaaslike ondernemings, onder meer die plaaslike koerant Krugersdorp Nuus, is met pizza en koeldrank verras om hul harde werk te beloon.

AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 9 September 2019 ’n opvolgbesoek by Laerskool Muldersdrif afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole. Elke onderwyser het ’n teenboeliegids ontvang, wat raad bied aan onderwysers, ouers en leerders wat met afknouery gekonfronteer word.

“Ons beplan nog verskeie aksies vir die res van die maand. Ons fokus veral op  boomplantaksies in die dorp, aangesien September ook AfriForum se jaarlikse boomplantmaand is,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se assistentkoördineerder vir Gauteng-Suid.

AfriForum se #AnkerdorpPadskou bou op die feit (gestaaf deur Solidariteit  se navorsing) dat Afrikaners na 30 dorpe in Suid-Afrika migreer, waar basiese dienslewering en behoeftes – soos gesondheidsdienste, veiligheid, versorging van bejaardes, skoon water en instandhouding van sanitasie – binne bereik is. AfriForum het dus besluit om dié gemeenskappe te wys hoe ons as burgerregtewaghond saam met die groter Solidariteit Beweging selfbeskikking aanmoedig en self moue oprol om ons dorpe te verbeter.

AfriForum moedig gemeenskapslede aan om by die #AnkerdorpPadskou betrokke te raak. Vir meer inligting, besoek gerus dié inisiatief se webtuiste by www.ankerdorp.co.za.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN