Header Artwork
AfriForum se Hoogland-takke maak ’n verskil in hulle gemeenskappe

Die AfriForum-takke in Kroonstad, Bethlehem en Frankfort het die afgelope paar weke verskeie opheffingsaksies in hulle omgewings aangepak. Hierdie takke het onder meer bome en kospakkies geskenk asook ’n uitreikaksie gehou.

Die AfriForum-tak in Kroonstad het in Augustus by Huis Eden, ’n Christelike versorgingseenheid vir minder bevoorregte mense, ’n uitreikaksie gehad. Huis Eden het tans sowat 73 persone, waaronder 13 kinders is, in afsondering as gevolg van COVID-19. Dié tak het die inwoners van Huis Eden bederf met drinkgoed om te help dat hulle vloeistofinname voldoende is.

“Wat ’n voorreg om te weet ons kon ook ’n klein verskil in mense se lewens maak in hierdie onsekere tyd. Die nood is veral hier by Huis Eden groot aangesien die mense wat hier woon nie uit kan gaan om los werkies te doen vir ’n inkomste nie,” sê Chris Morgan, AfriForum se distrikskoördineerder vir Hoogland.

Die Bethlehem-tak het gedurende Augustus in samewerking met Solidariteit Helpende Hand skenkings ingesamel om lede van die Bethlehem-gemeenskap by te staan wat gebuk gaan onder die gevolge van die staat van inperking en die COVID-19 pandemie.

Christa Ikking, sekretaris en projekbestuurder van die AfriForum-tak in Bethlehem het op 27 Augustus die kospakkies wat ingesamel is aan Johanda de Bruyn van Helpende Hand oorhandig. Volgens Johanda de Bruyn van Helpende Hand is die nood in die gemeenskap groot. “Enige skenkings word opreg waardeer en maak op die ou end ’n verskil in mense se lewens.”

Die AfriForum-tak in Frankfort het vier vals witstinkhout bome aan die Frankfort Voortrekkers geskenk. Hierdie bome is op boomplantdag by die Hoërskool Wilgerivier geplant. “As Voortrekkers het ons ’n unieke ‘ABC’. Ons wil graag moderne Afrikaners, positiewe Burgers en konsekwente Christene wees. Deel van die Voortrekker-kode wat ons graag streef om uit te leef is om ons omgewing te waardeer en te bewaar. Een manier hoe ons dit kan doen, is om mekaar aan te moedig om bome te plant om ons koolstofspoor te verminder,” sê ds. Johan Jackson, Kommandoleier by die Frankfort Voortrekkers.

“Dit is werklik ’n voorreg om deel te wees van ’n organisasie wat op verskillende maniere ’n verskil in gemeenskappe maak. Ons sien uit daarna om in die toekoms verder betrokke te wees by projekte en aksies wat die gemeenskappe in die Hoogland ophef en laat groei,” sê Chris Morgan, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN