Header Artwork
AfriForum en NWK gebruik 34 ton teer om Lichtenburg se paaie te herstel   

Die AfriForum-tak in Lichtenburg het in samewerking met NWK van 7 Mei tot 11 Mei ’n reusepadherstelprojek voltooi. Die herstelwerk is in Breëstraat voor die Hoërskool Lichtenburg gedoen en ongeveer 34 ton teer is daarvoor gebruik.

Die totale omvang van die projek was naastenby 250 m², terwyl die teer, wat deur NWK geborg is, se koste nagenoeg R40 000 beloop het. AfriForum het arbeid, toerusting en verseëlingvloeistof (SS60) voorsien, terwyl die tak ook suksesvol met die munisipaliteit onderhandel het om handjie by te sit.

“Die toestand van Lichtenburg se paaie is uiters swak. Ons het daarom besluit om ’n strategie te formuleer wat verskeie rolspelers in die dorp betrek om sodoende ’n optimale impak te maak. Ondernemings word genader om teer te borg en gebiede vir herstel te identifiseer, hetsy voor die betrokke onderneming of elders in die dorp. Die projek in Breëstraat is die begin van groot dinge en ons is baie dankbaar teenoor NWK vir die reuseskenking. ’n Woord van dank gaan ook uit aan die munisipaliteit wat toerusting en arbeid beskikbaar gestel het en tot die sukses van die projek bygedra het,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

“Ons as gemeenskap is bereid om verantwoordelikheid te neem vir die vooruitgang van ons dorp sodat dit weer ’n dorp kan wees om op trots te wees,” sê Stefan Niemand, voorsitter van AfriForum se Lichtenburg-tak.

“Dit is belangrik om betrokke te raak en terug te ploeg in die gemeenskap. As ons net stilsit sal die agteruitgang voortgaan. Ons daag daarom ander ondernemings in Lichtenburg uit om die inisiatief te ondersteun en selfs nog ’n groter verskil in die dorp teweeg te bring,” sê Johan Bezuidenhout, woordvoerder van NWK.

Pine Pienaar, bestuurslid van AfriForum se Lichtenburg-tak, bestuur die projek en ondernemings of gemeenskapslede kan hom by 082 371 5312 skakel om slaggate te nomineer of om by die projek betrokke te raak. Die organisasie doen ’n beroep op die gemeenskap om skenkings te maak en by AfriForum se Lichtenburg-tak aan te sluit sodat die projek volhoubaar gedryf kan word.

Word vandag nog deel van AfriForum se Lichtenburg-tak: SMS “Lichtenburg” na 45351 (R1) of skakel Niemand by 082 212 1588.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN