Header Artwork
AfriForum: Die mynkwessie by Nasionale Krugerwildtuin weer aan die gang

Die burgerregteorganisasie AfriForum en Saai het op Donderdag 13 Mei 2021, byna twee jaar na die eerste vergadering en eerste aansoek in hierdie verband, aan ’n openbare deelnamevergadering in Marlothpark deelgeneem in aanloop tot ’n beoogde steenkoolmyn op die voorstoep van die Nasionale Krugerwildtuin .

Die vergadering en proses wat in 2019 voorgelê is, was reeds gebrekkig en so ook die jongste openbare deelnameproses. Die omgewingskonsultant Limpearth & Environmental (Pty) Ltd wat namens Tenbosch Mining (Pty) Ltd die openbare deelnamevergadering gelei het, was nie in staat om die toepaslike inligting beskikbaar te stel aan die publiek nie en was oor die algemeen ongeorganiseerd.

AfriForum was in April 2021 genoodsaak om sy regspan opdrag te gee om ’n skrywe te rig aan Limpearth & Environmental (Pty) Ltd waarin versoek is dat die nodige dokumente vir kommentaar aan die belanghebbendes gestuur word aangesien die nodige inligting nie aan AfriForum gestuur is toe dié organisasie as geïnteresseerde en geaffekteerde party geregistreer is nie – geen terugvoer is nog ontvang nie. Tydens die openbare deelnamevergadering van 13 Mei 2021 het lede van die gemeenskap verskeie vrae gevra maar geen van die vrae is werklik beantwoord nie.

Lambert de Klerk, hoof van omgewingsake by AfriForum, sê Manzolwandle Investments (Pty) Ltd, wat oorspronklik die aansoek om die steenkoolmyn in 2019 ingedien het, is intussen deur Tenbosch Mining (Pty) Ltd gekoop. Die inligting is ook op 13 Mei 2021 tydens die openbare deelnamevergadering deur Limpearth & Environmental (Pty) Ltd aan die gemeenskap oorgedra.

Sedert die aansoek vir die steenkoolmyn afgekeur is, het Manzolwandle Investments (Pty) Ltd teen die besluit geappelleer – die appèl is toegestaan. “Ons bevraagteken die besluit om Manzolwandle Investments se appèl toe te staan aangesien die korrekte openbare deelnameproses nie gevolg is nie en van die dokumente wat in hulle omgewingsimpakstudie gebruik is vir beweerde plagiaat, wat ’n vorm van bedrog is, ondersoek word,” voeg De Klerk by.

AfriForum het reeds met sy regspan vergader en is besig om verdere stappe te neem.

Jy kan ons help deur ons veldtog #BewaarOnsNatuur te ondersteun. SMS “KNP” na 32077 (R1).

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN