Header Artwork
AfriForum betuig simpatie met die afsterwe van prof. Jaap Steyn   

Dit is met groot leedwese dat AfriForum vanoggend verneem het van die afsterwe van prof. J.C. (Jaap) Steyn. Dié organisasie betuig ons innige meegevoel aan sy suster Ria en familie. Sy dood laat ’n onmeetbare leemte op die terrein van Afrikanerkultuurgeskiedenis, Afrikaanse taalwetenskap en letterkunde.

Die omvang van die rol wat hy op hierdie terreine gespeel het, word bewys deur die verskeie toekennings waarmee hy vereer is:

  • die Eugène Marais-prys vir sy digbundel Die grammatika van liefhê
  • die Stals-prys vir geskiedwetenskappe vir die biografie Van Wyk Louw – ’n lewensverhaal
  • die Louis Hiemstra-prys vir niefiksie vir die biografie Die honderd jaar van M.E.R.
  • die C.J. Langenhoven-prys vir sy bydrae tot taalwetenskap
  • die N.P. Van Wyk Louw-medalje vir die volgehoue uitbouing van ’n vertakking of vertakkings van die geesteswetenskappe
  • die Jan H. Marais-prys vir sy uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal.

Prof. Steyn was ook erelid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Met sy werke Tuiste in eie taal, Trouwe Afrikaners en Ons gaan ’n taal maak het hy die kultuurgeskiedenis van Afrikaans en sy sprekers op ’n meesterlike en onverbeterlike wyse gedokumenteer.

“Benewens sy kennis en skryfvernuf, sal hy veral onthou word as ’n helder denker, nederige mens, fynproewer van humor, vurige liefhebber van en aktivis vir Afrikaans, en ’n lojale vriend. Ons sal hom mis en ons wens sy geliefdes troos in die hartseer tyd toe,” sê Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum.

Kraal Uitgewers het ook hul medelye uitgespreek met die afsterwe van een van Afrikaans se grootste en mees geliefde skrywers. Prof. Steyn het verskeie werke by Kraal gepubliseer, waaronder sy monumentale werk Ons gaan ’n taal maak: Afrikaans sedert die Patriot-jare.

“Prof. Jaap se sagte benadering, nederigheid, onbeskryflike kennis en sy liefde vir Afrikaans én die geskiedenis was enkele van die karaktereienskappe wat hom so geliefd gemaak het. Die Kraal Uitgewers-span salueer ’n meesterlike skrywer,” sê Ilze Nieuwoudt, publikasiebestuurder by Kraal Uitgewers.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN