Header Artwork
Aanlyn platform gee traumaslagoffers nuwe hoop

Deur Marthinus Koekemoer

Die AfriForum Trauma-eenheid het tydens die COVID-19-inperking besef ’n plan moet gemaak word om traumaslagoffers op ’n ander manier te help toe kontaksessies al hoe moeiliker geraak het.

“Toe die inperking op vlak 4 en 5 was, was kontaksessies beperk en moes ons ’n ander plan maak om mense by te staan,” sê Izel Kruger, projekbestuurder by die AfriForum Trauma-eenheid. “Daar was ook verskeie mense wat siek geword het of uit ’n vrees vir COVID afsprake met ons gekanselleer het. Dis hoekom ons die aanlyn platform begin het.”

’n Ander voordeel wat die aanlyn platform die AfriForum Trauma-eenheid bied, is dat mense in afgeleë gebiede van die land bereik kan word. Enigiemand, AfriForum-lid of nie, wat enige vorm van trauma beleef het, kan van die Trauma-eenheid se dienste gebruik maak. Of ’n mens ’n geliefde aan die dood afgestaan het, jou werk verloor het of ’n slagoffer van ’n plaasaanval was, die Trauma-eenheid kan bystand bied. Die diens is boonop gratis.

“Iemand wat hulp nodig het, kan ons webwerf besoek en ’n versoek vir hulp indien. Ons kan op Teams of met per telefoon op ’n dag en tyd wat die persoon pas met hom of haar kontak maak. Indien moontlik is Teams die beter opsie aangesien ’n mens mekaar darem kan sien. Alhoewel die meeste mense wat ons kontak hulp in Afrikaans wil hê, kan ons ook in Engels help as dit nodig sou wees.”

 

Die Trauma-eenheid is van Maandae tot Donderdae van 08:00 tot 16:00 beskikbaar om bystand te bied. ’n Versoek vir berading kan by www.AfriForum.co.za/versoek-vir-berading/ ingedien word. Hier sal ’n mens onder meer jou naam en telefoonnommer moet verskaf. Daar is ’n lys met moontlike traumatiese gebeure waaruit ’n mens kan kies om aan te dui hoekom jy hulp benodig. Verkragting, die verlies van geliefde, werksprobleme en depressie word onder meer ingesluit.

Kruger sê sy is nie bewus van ander trauma-eenhede in Suid-Afrika wat ’n aanlyn platform het nie. “Hierdie platform gee ons ’n bykomende manier om mense te help.”

Foto: Van links na regs staan Johan Kloppers, Izel Kruger, Magda Coetzee en Hennie Human van die AfriForum Trauma-eenheid.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!

Subscribe To Our Newsletter

Join our mailing list to receive the latest news and updates from our team.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest

SLUIT AAN